LADISMITH NUUS - Twee persone het vlugtig in die Ladismith-landdroshof verskyn nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, is die eerste persoon, 'n 26-jarige man, op 27 Junie by 'n vulstasie buite Ladismith in hegtenis geneem.
"Die polisie het inligting opgevolg en 'n taxi wat vanaf Kaapstad onderweg was by die vulstasie gestop. Die taxi is na die polisiestasie begelei waar dit deursoek is. Die dagga was in die verdagte se bagasie versteek. Die totale gewig is 2,30 kg."
In die tweede voorval, ook op 27 Junie, is 'n 32-jarige vrou van Ravensmead aangekeer nadat 200 Mandrax-tablette in haar besit gevind is.
"Die polisie het inligting opgevolg van 'n taxi wat vanaf Kaapstad onderweg was wat dwelms vervoer. Die taxi is gestop en na die polisiestasie begelei. Die Mandrax-tablette, wat in ’n plastieksakkie versteek was, is in die beskuldigde se besit gevind."
Die voorsitter van die Ladismith-gemeenskapspolisiëringsforum, Dawid Bothman, het sy dank en waardering uitgespreek teenoor die polisielede wat moeite doen om die smokkelaars aan te keer.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'