OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van twee mans van Dysselsdorp wat teregstaan op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, aanranding om ernstig te beseer en diefstal, is in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis uitgestel.
Hyron Avontuur en Hyron Coetzee word daarvan aangekla dat hulle op 14 Mei verlede jaar vir Harry Plaatjies met messe gedreig en van sy musiekboks beroof en met klippe gegooi het.
Hulle het op dieselfde dag glo ook 'n buitelandse spazawinkeleienaar met 'n mes gedreig en van lekkers en sjokolade ter waarde van sowat R500 beroof.
Coetzee word ook daarvan aangekla dat hy 'n fiets van Plaatjies gesteel het.
Albei beskuldigdes pleit onskuldig.
Volgens hulle het hulle die musiekboks op ‘n dobbelpoel gewen terwyl Coetzee aanvoer dat Plaatjies hom gestuur het om die fiets by ene “Doempie” te gaan haal en onderweg terug het die polisie hom op die De Rust-pad voorgekeer het.
Sy getuienis word egter deur die ondersoekbeampte, ao. Kobus van der Merwe, weerlê. Volgens Van der Merwe het Coetzee in die rigting van Oudtshoorn gery toe hy deur die polisie gestop is.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en die twee beskuldigdes bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'