CALITZDORP NUUS - Twee mans van Calitzdorp, wat skuldig bevind is aan moord, roof met verswarende omstandighede en voertuigdiefstal is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Aubrey Abrahams (36), en Dawid Pietersen (26), het erken dat hulle op 10 April 2021 Lourens de Villiers (66), ‘n diereliefhebber, en opsigter van die Visarend-kampeerterrein langs die Calitzdorp-dam, met ‘n stomp voorwerp geslaan, geskop, vasgebind en sy gesig met kleefband toegedraai het. Hy is volgens die mediese verslag aan versmoring dood.
Oudtshoorn Courant het in 2021 berig De Villiers was 'n bekende gemeenskapslid en oudnuusregisseur van die SAUK. Sy liggaam is 13 April 2021, om 16:00 met veelvuldige beserings buite sy woonplek op die Visarend-kampeerterrein by die Calitzdorp-dam gevind.
Familielede van De Villiers het onraad vermoed toe hulle vir 'n geruime tyd geen kontak met hom kon maak nie en het toe die polisie gekontak. Twee lede van die polisie is na dié oproep na die kampterrein en het De Villiers se erg beseerde liggaam 'n paar treë van die houthuis waar hy gewoon het, ontdek. Die huis is buite sig van die piekniek- en visvangarea en dit is onwaarskynlik dat toevallige besoekers die liggaam sou opmerk.
De Villiers se Hyundai-bakkie is dae later verlate in die veld naby Matjiesfontein gevind.
Abrahams is die pa van sewe kinders en het 14 vorige veroordelings. Pietersen het 10 vorige veroordelings. Abrahams en Pietersen het die oorledene ook van sy skootrekenaar, twee musiekbokse, ‘n selfoon, ‘n beursie met kontant, wyn en kos beroof wat hulle in sy huis gaan haal het. Hulle het dit in sy bakkie gelaai en van die toneel weggery.
Adv. Pieter van Wyk, wat in opdrag van die Legal Aid SA vir Abrahams en Pietersen opgetree het, het die hof versoek om die meer as twee jaar wat hulle in aanhouding was en die feit dat hulle skuldig gepleit het ter versagting van vonnis in ag te neem.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het egter vir die voorgeskrewe minimum vonnisse vir moord (lewenslank) en roof met verswarende omstandighede (vyftien jaar) gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.
Die misdaadtoneel met 'n strook polisielint op Dinsdag 20 April 2021. Die rooi pyl dui die plek aan waar twee polisielede die liggaam van Lourens de Villiers twee jaar gelede ontdek het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het vonnisoplegging die moord as grusaam en wreed beskryf. Hy is volgens die foto’s voor die hof met iets soos ‘n piksteel oor sy kop geslaan en daar is altesaam 25 wonde aan sy liggaam.
Die landdros het gesê sy wonder wat in die beskuldigdes se koppe aangegaan het om iemand wat homself nie kon verdedig nie so aan te rand. “Hulle kon mos net gevat het wat hulle wou hê en die man uitgelos het.”
Die beskuldigdes is behalwe die lewenslange gevangenisstraf ook elk vyftien jaar vir roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir voertuigdiefstal opgelê wat samelopend met die vonnis vir moord uitgedien kan word.
- Die saak teen ‘n derde beskuldigde, ‘n jeugdige, is vroeër vir verhoor na ‘n ander hof oorgeplaas.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein -Karoo-nuus'