Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Oudtshoorn wat op Kersoggend verlede jaar twee mans buite 'n nagklub in Zebraweg beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof elk tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle aan twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Michael Swapi en Zola Maliwa het die oggend vir Francois Monck en Dominique Fourie met messe gedreig en van hul selfone, kontant, motorsleutels en 'n pienk baadjie beroof.
Swapi en Maliwa is danksy die vinnige optrede van die polisie sowat 'n uur later in hegtenis geneem.
Swapi is gesien waar hy die motorsleutels weggegooi het, terwyl Maliwa, nie ver daarvandaan, gesien is met die baadjie van een van die klaers.
Die twee rowers se weergawes is deur streeklanddros Ntsoki Moni as vals verwerp.
Swapi het getuig dat hy die oggend omstreeks 03:00 onderweg was om by sy meisie in Smartie Town te gaan kuier.
Hy het getuig dat hy saam met drie ander mans was, maar onder kruisverhoor erken dat hy alleen was.
Hy het ontken dat hy die motorsleutels in sy besit gehad en weggegooi het toe hy die polisie sien aankom.
Maliwa het getuig dat hy die oggend dwelms gaan koop het en op pad huis toe 'n pienk baadjie by ene, Jan Padda, gekoop het.
Hy het die baadjie aangetrek en dwelms in een van die sakke gesteek. Hy kon egter nie verduidelik waarom hy weggehardloop en oor die heining van die Bridgton-sportterrein gespring het nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om die twee klagtes vir vonnis saam te neem en die twee beskuldigdes vir ten minste 10 jaar tronk toe te stuur.
Die landdros het in ag geneem dat die klaers nie beseer is nie en afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.
Vorige artikel: Twee agter tralies vir Kersdag-roof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'