OUDTSHOORN NUUS - Op Saterdagmiddag, 5 September, is die 'wêreldpremière' van die werk Tussen Asem in Prins Albert in 'n stampvol saal by die Swartberg Hotel gehou.
Die digter en skrywer, Hannes Visser, bekende in Oudtshoorn, het reeds wye erkenning vir sy twee digbundels geniet, 2019 se Die jaar toe pa, en sy jongste, Tussen asem, wat vroeër vanjaar verskyn het.
Oor die nuwe bundel het Joan Hambidge geskryf:
"Hierdie bundel verdien 'n wye lesersgehoor." Marlies Taljaard sê op Versindaba: "Gedigte beïndruk deur hulle eenvoud, bevredigende ritme en metrum, binne- en soms eindrym en onderliggende logiese verloop. Stilte, op die emosionele vlak én semanties verwoord is die oorheersende stemming van die bundel."
Met die oog op die Prins Albert-leesfees het Visser aan Daniël Verster, vermaarde operasanger en stemafrigter van Prins Albert, gevra om musiek voor te stel wat by sy gedigte sou pas. Verster het die bundel gelees en besluit dit verdien meer as net andermansmusiek.
Hy het op sy beurt met dr. Ben Oosthuizen, wat ná 'n loopbaan van 37 jaar as die hoof van St. John's College se musiekafdeling afgetree het, en ook op Prins Albert bly, in gesprek getree.
Saterdagmiddag se konsert was die resultaat van samewerking tussen drie meesters op hulle gebied.
Oosthuizen se uitsonderlike komposisies en klavierspel, Verster se ryk heuningbaritonstem en die gebruik van die goed geoliede Prins Albert-kamerkoor (waarvan Oosthuizen die koormeester is), het 'n nuwe dimensie by Visser se poësie gevoeg. Visser het self sy gedigte (in opdrag van Oosthuizen) voorgelees en met sy loslit verstrooide-professor-styl die agtergrond van elke gedig geskets.
Hoewel die Leesfees afgestel moes word as gevolg van die sluiting van Meiringspoort en die vrees dat min mense die Swartbergpas sou aandurf, het hierdie konsert dubbel en dwars daarvoor opgemaak.
'n Mens kan net hoop dat hierdie samewerking die aandag sal kry wat dit verdien. Hopelik maak dit binnekort in die Klein-Karoo en op die Tuinroete se verhoë 'n draai.
Vir hierdie skrywer was die reis oor die Swartberge 'n onverwagse bedevaart.
• Die middagkonsert word ook vir 25 September in die De Rust Hotel beplan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’