OUDTSHOORN NUUS - Die besluit van die Amerikaanse president, Donald Trump, om nuwe invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte te hef, laat ook Oudtshoorn se plaaslike bedryf nie onaangeraak nie.
Trump het verlede week aangekondig dat Suid-Afrikaanse invoere voortaan aan 30%-tariewe onderhewig sal wees, die hoogste tarief wat enige land in Sub-Sahara-Afrika tans in die gesig staar.
Die tariewe tree vanaf vandag, 7 Augustus, as deel van sy beleid om handelsverhoudings met buitelandse vennote te hersien, in werking.
Twee besighede in Oudtshoorn, wat na Amerika uitvoer word hierdeur geraak, Klein Karoo Saadproduksie (Edms.) Bpk. en Cape Karoo International (CKI).
Cape Karoo International (CKI)
Vir CKI, 'n wêreldleier in die produksie van volstruisleer, -vere en -vleis, is die aankondiging kommerwekkend, maar nie 'n krisis nie.
CKI, met sy hoofkantoor in Oudtshoorn, ondersteun duisende werksgeleenthede regoor die Klein-Karoo deur middel van boerderye, twee moderne looierye, vier slagpale en 'n vereverwerkingsaanleg.
Volgens dr. Francois de Wet, uitvoerende hoof van CKI, voer die maatskappy ongeveer 20% van hul volstruisleervelle na die VSA uit, asook sowat 14% van hul vere, insluitend produkte soos verestoffers. Hoewel Suid-Afrika tans nie volstruisvleis na die VSA mag uitvoer nie, is daar uitvoere van volstruis-gebaseerde troeteldierlekkernye.
Volstruisleer is gewild in die VSA, veral onder bekende handelsmerke soos Lucchese en Justin Boots, wat dit gebruik vir cowboy-stewels.
"Suid-Afrika is die enigste land wat volstruisleer van hierdie gehalte vir die Amerikaanse skoenmark lewer," sê De Wet.
Volgens hom verteenwoordig die Amerikaanse mark sowat 20% van CKI se volstruisleeruitvoere.
Die res van hul produkte word na Europa, Mexiko en die Verre Ooste uitgevoer.
De Wet verduidelik dat hulle reeds in gesprek is met hul Amerikaanse kliënte oor maniere om die impak van die nuwe tariewe te versag. Daar is selfs onderhandelinge aan die gang om die 30%-tarief in die produksieketting af te breek om sodoende bykomende koste vir eindverbruikers te verlaag.
Volgens De Wet beplan CKI geen afleggings nie en doen hulle alles in hul vermoë om werksekerheid te beskerm. "Ons voorsien ook geen verlaging in pryse aan die boere nie," beklemtoon hy.
Hoewel CKI altyd die moontlikheid ondersoek om nuwe markte te betree, wys De Wet daarop dat dit 'n tydrowende en komplekse proses is. "Ons het byvoorbeeld navorsing gedoen na skoenvervaardiging vir Europese markte, maar selfs lande soos Italië, wat bekend is vir hul mode-industrie, toon nie werklik belangstelling nie."
Vir nou bly CKI gefokus op hul verhouding met bestaande kliënte, veral in die VSA. "Ons is vasbeslote om volhoubare oplossings te vind wat die impak op ons mense en die plaaslike ekonomie tot die minimum beperk," sê De Wet.
Volgens 'n video van Ryan Vaugan, uitvoerende hoof van Rios de Mercedes Bootmaker, wat op YouTube versprei word, word daar nie met volstruise in Amerika geboer nie, en is hulle dus afhanklik van lande soos Suid-Afrika vir die invoer van hoëgehalte produkte. Volgens hom het hy ongeveer 450 mense wat vir hom in Amerika en Mexiko werk en kan dit moontlik hulle werk ook beïnvloed sou hulle nie meer die leerprodukte van Suid-Afrika kan invoer nie.
David Malan Foto verskaf
Klein Karoo Saad Produksie (KKSP)
Klein Karoo Saad Produksie (KKSP) spesialiseer in die produksie van hoëkwaliteit groente- en weidingsaad, op 'n kontrakbasis vir saadmaatskappye van regoor die wêreld. Volgens David Malan, besturende direkteur van KKSP, sal die 30%-tarief 'n wesenlike impak op alle saaduitvoere uit Suid-Afrika na die VSA hê.
Hoewel slegs 19% van hulle saad direk na Amerika uitgevoer word, voer hulle ook saad na ander bestemmings, soos Europe uit wat weer die saad na, onder meer, Amerika, heruitvoer.
Malan verduidelik dat saadmaatskappye in verskillende lande in Europa en reg oor die wêreld unieke kultivars teel. Die kultivars word onder kontrak in Suid-Afrika vermeerder en dan uitgevoer na die land van oorsprong. Hier word die saad verder verwerk en verpak, voordat dit heruitgevoer word na bestemmings reg oor die wêreld.
"Ons voer grootliks groentesaad uit wat insluit die uie-agtige gewasse, wortelsaad en verskeie ander tipes. Saad het egter altyd 'n identiteit en kom met 'n sertifikaat van oorsprong. Dit beteken dat enige ander land wat saad uit Suid-Afrika weer heruitvoer na die VSA, ook die 30%-tarief moet betaal omdat die saad in Suid-Afrika geproduseer is. Dit kan dus moontlik 'n impak hê op toekomstige uitvoere na ander lande en nie net Amerika nie."
Volgens Malan is die voordeel van hul bedryf dat die uitvoere seisoenaal is en dat meeste van hul saad vir die jaar, reeds uitgevoer is.
"Boere het ook reeds hul kontrakte vir 2026 geteken en word daarom beskerm deur hul kontrakte. Daarom verwag ons nie enige impak op produsente in die kort- tot mediumtermyn nie.
"Ons bly hoopvol dat 'n nuwe handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA onderhandel sal word voor volgende jaar se uitvoere, maar indien niks verander nie, val die onus op ons en ons VSA kliënte om die 30%-tarief te absorbeer.
Indien die tariewe onveranderd bly vir die langer termyn, sal ons moet kyk na nuwe ooreenkomste met ons kliënte en ook ons produsente."
Malan sê hulle verwag ook geen afleggings op hierdie stadium nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’