OUDTSHOORN NUUS - Die Tribuo Artistieke Platform (TAP) is Donderdag 2 April amptelik by die KKNK se Netwerk24 Feeskafee bekendgestel.
TAP is 'n nuwe aanlyn tuiste vir die kunste in Suid-Afrika. Dit gaan geleenthede skep, kunstenaars se stories vertel en erfenis help bewaar.
Karen Meiring, direksielid van TAP het tydens die bekendstelling beklemtoon dat die platform gebou is vir kunstenaars, skrywers en enigiemand betrokke in die bedryf.
"Die is 'n omvattende aanlyn platform vir die kunste en kan enigiemand wat betrokke is in die bedryf en kunste-ekosisteem aansluit."
Die opbou van 'n nasionale kunste-argief is ook op TAP se agenda om sodoende belangrike geskiedenis, kultuur en kuns vir die nageslag te bewaar.
Die Tribuo-fonds is tydens die Covid 19- pandemie op die been gebring om onder-steuning aan kunstenaars te bied.
Meiring het uitgewys dat dat Tribuo tans vier belange het wat insluit:
Die Proscenium-dramakompetisie, die bestuur van die Fiësta-pryse, die beplanning van kunsteberaadsessies met betrokkenheid van rolspelers om uitdagings aan te spreek en oplossings te vind en laastens, TAP is daarop gemik om die kunste-ekosisteem te bemagtig, op te bou en te bewaar.
Meiring het beklemtoon dat die kunste, teater en drama nou al vir dekades tevrede moet wees met krimpende subsidies. "TAP bied kunstenaars waarde, 'n hupstoot waar nodig, sigbaarheid en word ingelig gehou oor die kunste-ekosisteem in Suid-Afrika."
Kunstenaars wat belangstel kan [email protected] stuur of besoek www.tribuo.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’