OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R500 is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof aan John Donson (37) toegestaan.
Hy word daarvan aangekla dat hy, volgens die klagstaat, verskeie kere oor 'n bekende inwoner van Bridgton, Ricardo Fourie, gery het.
Fourie het later in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk.
Die voorval het Vrydag 5 Januarie in Swawellaan, Bridgton, plaasgevind en Donson is op Sondag 7 Januarie op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.
Die klagte kan volgens die klagstaat in een van moord verander word.
Landdros Lorraine Samuels het borgtog aan Donson toegestaan op voorwaarde dat hy nie van woonadres verander sonder die medewete van die ondersoekbeampte nie, nie by enige verdere misdaad betrokke raak nie en gereeld vir sy hofverskynings na die hof kom.
Hy is gewaarsku dat indien hy enige van die voorwaardes verbreek hy in hegtenis geneem sal word en in aanhouding sal bly totdat die saak afgehandel is.
Sy borgtoggeld aan die staat sal verbeurd verklaar word.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 26 Februarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'