OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Môrester is een van drie skole in die Klein-Karoo wat die week 'n splinternuwe wetenskaponderrig- en leersentrum ontvang het. Die nuwe Sience Teaching and Learning Centre (TLC) gaan help om die onderrig en leer van STEM-vakke (wetenskap, tegnologie, ingeneurswese en wiskunde) by skole te ondersteun.
Die sentrum is Dinsdag, 3 Oktober tydens 'n spesiale seremonie geopen. Die ander twee skole wat ook laboratoriums gekry het was Avontuur Primêre Skool en Ladismith Hoërskool.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement, saam met Advancing Knowledge NonProfit Company en Garden Cities Archway Foundation het met 'n proses begin om die infrastruktuur waarin STEM-vakke onderrig word te verbeter deur hierdie moderne wetenskaplaboratoriums te bou. Sedert 2011 is daar 114 TLC-sentrums gebou.
Die konstruksie van die Wetenskaplaboratoriums is 'n uitbreiding van die kurrikulumondersteuning van onderwysers en leerders wat deur die Archway Foundation verskaf word en dien as 'n beloning aan toegewyde wetenskaponderwysers, skoolbestuur en leerders. Die ondersteuning wat gebied word kom eerstens in die vorm van opleiding vir onderwysers om die kultuur van wetenskaponderrig te verbeter en tweedens deur interessante en stimulerende wetenskapprojekte soos wetenskapklubs en kompetisies om die kultuur van wetenskapleer te verbeter.
Jaco Stevens, Hoërskool Môrester se skoolhoof, het tydens die geleentheid gesê dat hy geweldig dankbaar is vir die sentrum en hy weet dat die onderwysers, sowel as die leerders dit optimaal sal benut.
Professor Shaheed Hartley, direkteur van Adv. Knowledge NPC het tydens die opening van die sentrum gesê: "Ons moet begin met die basiese beginsels in terme van ondersteuning van onderwysers omdie selfvertroue te hê om wetenskap met 'n gevorderde vlak van begrip, kennis en vaardighede te onderrig. Net so moet ons kreatief wees om aan leerders geleenthede te bied wat hul belangstelling en gewilligheid sal trek om wetenskap te leer. Om 'n selfversekerde en kundige wetenskaponderwyser te hê, in 'n gunstige omgewing wat deur die TLC-sentrums voorsien word, is 'n uitstekende begin."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’