OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo het Woensdag 21 Augustus hul algemene jaarvergadering gehou.
Tydens die vergadering het Tammy Moult, voorsitter van die toerismekomitee, klem gelê op die feit dat hulle alles in hul vermoë doen om by hul mandaat te hou en bestemmingsbemarking hul mandaat te maak.
"Om dit te bereik maak ons van verskillende bemarkingsinisiatiewe gebruik soos handel- en verbruikerskoue wat die WTM Africa, SA Tourism Trade Workshops en Vakansiebeurs insluit. Ons verwelkom ook op 'n gereelde basis sosiale media influencers wat geweldig baie bydrae om ons streek te help bemark en dan maak ons ook gebruik van advertensies en promosieartikels. Ons het 'n jaarlikse aktiwiteit-afslagbrosjure wat uitgedeel word en deel ook ander brosjures op strategiese plekke uit. Hierdie is maar van die inisiatiewe wat ons toegewyde span gebruik om ons dorp en streek te bemark."
Moult het ook verduidelik dat die buro 'n nie-winsgewende organisasie is.
"Ons grootste deel van ons finansiering kom van die munisipaliteit en daarna is dit ledegelde. Omdat die totaal hiervan nie heeltemal genoeg is om al die uitgawes te dek nie, is ons ook genoodsaak om fondsinsamelings te doen," het sy verduidelik.
Sy het die belangrikheid van lidmaatskap by die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo verduidelik.
Volgens haar kry lede voorkeur op bemarkingsgeleenthede wanneer die buro na skoue en ander bemarkingsgeleenthede gaan.
"Ons help dus om elke produk, attraksie, restaurant, enigiemand wat 'n lid is by ons, te bemark. Die lede se gelde help ons ook om ons mandaat te na streef."
Sy het ook verduidelik hoe die land se toerisme sedert Covid-19 herstel het. Volgens haar is die beperking op visas van sekere lande steeds 'n groot probleem. Moult het bygevoeg dat daar aansienlike groei in toeriste vanaf Nederland, Kanada, Italië, Switserland, Spanje, Rusland en Ierland sedert 2019 tot 2023 was.
Enver Duminy, hoof- uitvoerende beampte van Kaapstad-toerisme, en Loodt Buchner, uitvoerende stigter van The Behold Collection of Companies, was die gassprekers van die aand.
Beide het gepraat oor hoe toerisme verander het, veral sedert Covid, en hoe belangrik dit is om bemarkingsmetodes en -inisiatiewe tot so 'n mate aan te pas dat die jonger generasie (gen X en Z) spesifiek jou dorp, stad, produk of attraksie wil kies.
Nuwe komitee
'n Nuwe komitee is ook tydens die AJV gekies en 'n nuwe voorsitter en ondervoorsitter sal verkies by die eerste komitee vergadering.
Die lede is: Lucius Fourie, Johlene du Preez, Alison Moos, Billy Engelbrecht, Shanel Lambrechts, Pienaar Muller, Roselle Crafford, Amanda van Niekerk, Werners Alberts en Tammy Moult.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’