OUDTSHOORN NUUS - Personeel van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor het saam met Ilze Jacobs van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Mandeladag spesiaal gemaak vir die kinders van Helderliggies-kleuterskool op die Rooiheuwel-pad buite Oudtshoorn.
Die groep het die kleingoed bederf met 'n vrolike partytjie, 'n heerlike plaatkoek, lekkergoedpakkies en splinternuwe balle.
Volgens skoolhoof Dinah Josephs is Helderliggies reeds in 2013 gestig, maar het in 2021 na hul huidige perseel verskuif.
Die skool bestaan uit twee houtstrukture waar sowat 16 kinders uit die omliggende Rooiheuwel-omgewing daagliks onderrig ontvang. Daar is geen elektrisiteitstoevoer in die klaskamers nie en volgens Josephs, is daar ook 'n behoefte aan speelaparate by die skooltjie.
Die kinders is met 'n partytjie bederf. Foto's Liezl van Niekerk
Corleen Barnard, toerismebestuurder van die streekkantoor, sê dit is vir hulle belangrik om soveel moontlik aan die gemeenskap terug te gee.
"Die skooltjie is onder ons aandag gebring deur iemand wat die behoefte raakgesien het. Elke kind verdien om bederf te word, dit is die gees van Mandeladag."
Personeel van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor en die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het Mandeladag vir die kinders spesiaal gemaak.
Enigiemand wat met Josephs in kontak wil kom, kan haar bel by 079 953 3463.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’