OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn, wat aan verkragting van 'n vrou wat aan hom bekend is, skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Henrico Cupido (40) is daarvan aangekla dat hy die aand van 5 Maart 2022 'n vrou in sy huis in Nerinalaan, Bridgton, verkrag het nadat hulle vroeër die aand saam tik en Mandrax gebruik het.
Cupido het onskuldig gepleit en aanvanklik erken dat hy met toestemming seks met haar gehad het.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy opsomming van die getuienis voor die hof gesê dat die klaer baie emosioneel was ten tyde van haar getuienis. Sy en die beskuldigde is bekend aan mekaar en hulle het mekaar die betrokke aand by 'n sjebien raakgeloop. Hy het haar later die aand genooi om saam tik te gaan koop en is daarna na die huis waar hy saam met sy suster woon.
Ene Henry was saam met hulle. Henry is later weg waarna die beskuldigde vir die klaer iets gemaak het om te eet omdat sy honger was.
Sy het getuig dat sy seks geweier het en die beskuldigde toe aan haar gesê het dat hy "sal vat wat hy wil hê".
Hy het haar toe gedreig dat hy haar sal seermaak, haar self uitgetrek en verkrag nadat hy 'n kondoom aangesit het.
Die klaer het Cupido se getuienis dat sy hom seks belowe het in ruil vir tik ontken. Cupido het aanvanklik getuig dat hy met toestemming seks met die klaer gehad het, daarna dit ontken en toe weer sy getuienis verander.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir Cupido se skuldigbevinding gevra omdat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Hy het drie weergawes van wat gebeur het en kan nie geglo word nie.
Die hof het Cupido tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'