OUDTSHOORN NUUS - AfriForum Oudtshoorn het 'n hersieningsaansoek teen Oudtshoorn-munisipaliteit se beleid oor riooltariewe gebring nadat die munisipaliteit volgens AfriForum versuim het om aan 'n hofbevel van 2022 gehoor te gee.
Volgens Marthinus Erasmus, distriks-koördineerder vir die Suid-Kaap gee die hofbevel Oudtshoorn-munisipaliteit opdrag om die beleid, wat uitstippel dat riooltariewe per toilet by huishoudings gehef word, aangepas moet word.
"Die munisipaliteit het egter slegs aan die bewoording van die beleid verander, wat beteken dat geen wesenlike veranderinge op grondvlak teweeggebring is nie."
Erasmus noem dat dié skelmstreek nie AfriForum van stryk sal bring nie. "Ons sal voortgaan om teen ongeregtigheid soos hierdie te veg. Dit is duidelik dat Oudtshoorn-munisipaliteit nie werklik die belange van die inwoners op die hart dra nie, maar eerder daarop uit is om die maksimum inkomste in te win."
Uitgerekte hofstryd sedert 2021
AfriForum en die Oudtshoorn-munisipaliteit is sedert 2021 in 'n uitgerekte hofstryd gewikkel weens die omstrede riooltariewe, wat die munisipaliteit per toilet bereken.
AfriForum voer aan dat dit onnodige druk op byvoorbeeld 'n pensioenarispaartjie plaas wat drie toilette in hul huis het. Hoewel hulle baie minder water gebruik as 'n huisgesin van ses mense met net een toilet, betaal hulle nou meer bloot omdat daar meer toilette in hul huis is.
AfriForum is tydens 'n vergadering op 29 Oktober verlede jaar met Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, verseker dat die kwessie rondom die beleid feitlik iets van die verlede is.
Hy het kort daarna, op 31 Oktober tydens 'n sakenetwerk-geleentheid, weer openlik gesê dat die huidige beleid rakende riooltariewe geensins sin maak nie en dat hy onderneem om die inhoud van die beleid te ondersoek.
"Dit is egter duidelik dat hy óf nie die waarheid gepraat het nie óf nie geweet het waarvan hy praat nie, want steeds bly hierdie beleid feitlik onveranderd. Intussen moet die inwoners onnodig opdok hiervoor," sê Erasmus.
AfriForum stel voor dat die tariewe op grond van waterverbruik per huishouding bereken word, in plaas van per toilet. Artikel 74(2)(b) van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000) bepaal dat die bedrag wat individuele verbruikers vir munisipale dienste moet betaal, bepaal moet word aan die hand van die gebruik van sulke dienste.
Burgemeester reageer
In gesprek met Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, noem hy dat die optrede van AfriForum belaglik is aangesien hy hulle opinie ten volle ondersteun.
"Ons is in die proses om die tariewe te hersien, maar is onderhewig aan die tans voorgestelde begroting. AfriForum tree nou op voordat die begroting met aangepaste tariewe goedgekeur is en sal geen hof nou hieraan aandag gee voordat die begroting finaal goedgekeur is nie.
Ons volg tans wetgewing en die nodige prosesse om tariewe in lyn te kry. Die besluit waaroor hulle nou wil hof toe gaan is deur die DA gemaak en nie ons nie aangesien ons eers op 1 Augustus 2024 die raad oorgeneem het, hul moet dus die vorige DA burgemeester dagvaar en nie die huidige bestuur nie."
Volgens Allers is AfriForum welkom om enige tyd 'n afspraak te maak om hom te sien en glo hy aan 'n oop deur beleid."
AfriForum se Oudtshoorn-tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en vandag nóg 'n positiewe verskil in die gemeenskap te maak. Stuur 'n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’