Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Groep lede van Caring Friends Therapy Dogs in Oudtshoorn het op Donderdag 13 Februarie 'n besoek gebring aan Helen Bellinghanhof, versorgingsoord vir bejaardes.
Die terapeutiese honde bring vreugde, geselskap en onvoorwaardelike liefde aan die inwoners, en verseker elke week dat daar groot glimlagte op die gesigte van die bejaardes is.
Caring Friends Therapy Dogs, onder die leiding van Petra du Toit, maak gereelde besoeke aan die tehuis, asook Laerskool Laurus en die Eljada-nasorgsentrum.
Terapiehonde word spesifiek opgelei om emosionele ondersteuning te bied aan mense in verskillende lewensomstandighede. Honde het die unieke vermoë om bystand en troos te verleen aan persone wat dit die nodigste het.
Fotogalery: Terapie-honde maak 'n verskil
Du Toit beklemtoon die positiewe impak wat sulke besoeke op bejaardes, gestremdes en kinders het. "Ons is elke keer opreg dankbaar dat ons iemand se dag op hierdie manier kan ophelder. Daar is baie bewyse dat honde geestelike en emosionele gesondheid verbeter, veral vir mense wat angstig is of met depressie sukkel," sê sy.
Die groep vrywilligers gebruik hul eie honde, wat vooraf deeglike evaluering en toetsing ondergaan het. "Ons kan nie aggressiewe honde as terapiehonde gebruik nie, daarom is elke hond se vriendelike en kalm geaardheid van kardinale belang.
Terapiehonde help boonop met die bevordering van sosiale vaardighede en verbeter fisieke interaksie tussen studente, hul portuurgroep en onderwysers," verduidelik Du Toit.
Die honde is opgelei om verskeie instellings, soos hospitale, skole en ouetehuise, te besoek. Terapiehonde is kalm en goed aangepas vir onbekende, besige omgewings, selfs waar harde geluide en beweging voorkom.
- Enigiemand in Oudtshoorn wat belangstel om by Caring Friends Therapy Dogs aan te sluit, kan vir Petra du Toit kontak by 082 627 6201.
Video: Onderhoud met Petra du Toit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’