OUDTSHOORN NUUS - Die sewende Teksmark vind vanjaar van 24 tot 26 Augustus by die Baxterteater in Kaapstad plaas. Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nooi almal uit om by hulle aan te sluit vir hierdie broeikas van Suid-Afrikaanse teater.
Teksmark is ’n projek van die KKNK, wat in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteatersentrum aangebied word en idees en tekste met belangstellendes in die bedryf word gedeel vir moontlike verdere ontwikkeling.
Verskeie skrywers
Verskeie skrywers bied hul idees vir tekste aan, waaronder Toroga Denver, Alby Michaels, Henriëtta Gryffenberg, Louw Venter, Wessel Pretorius, Dianne Albertze, Philip Theron, Grant Jefthas, Andi Colombo, Jane Mpholo, Mikayla Joy Brown, Anele Kose, Gita Fourie, Nico Taljaard, André Gerber, Elana-Marié Snyman, Sbuja Dywili, asook vyf skrywers wat deel vorm van die Suidoosterfees NATi Jong Sterre-projek moontlik gemaak deur Die Jakes Gerwelstigting (Moniq Gouws, Tiffany Saterdaght, Zack Mtombeni, Curtley Pitt en Roland du Preez).
Akteurs en regisseurs
Van die akteurs en regisseurs wat betrokke is, sluit onder ander in: Albert Pretorius, Zenobia Klopper, Stephren Saayman, Carlo Daniels, René Cloete, Gary Naidoo, Rafiek Mammon, Daneel van der Walt, Karli Heine, Tshegofatsu Mabutla, Carla Smith, Wessel Pretorius, Geon Nel, Dean-John Smith, Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz, Celeste Loots, Robert Hindley, Eben Genis, Jane Mpholo, Anele Kose, Robyn September, Johann Nel, Gaerin Hauptfleisch, André Samuels, Dean Balie, Philip Rademeyer, Louw Venter, Cole Wessels en vele meer.
Laaste twee jaar
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê dat Teksmark die laaste twee jaar ’n soort troos vir die bedryf in ’n droewige tyd van bykans geen regstreekse teater geword het en vanjaar keer Teksmark terug na die oorspronklike wortels van dié projek.
“Nou dat ons weet ons kan weer teater maak, het ons skrywers en tekste met nuwe, vars idees en aanslae nodig. Die wêreld het oor die laaste twee jaar so baie verander. Ons skrywers moet ons help om sin hiervan te maak en ons herinner dat die teater en die verhoog dié plek is waar ons met idees kan speel en eksperimenteer. Daarom sien ons uit om te sien hoe ons skrywers die geleentheid aangryp, ons verras, vermaak en bowenal laat dink, soos dit goeie teater betaam,” sê sy.
Hoe werk die proses
Skrywers bied tydens Teksmark ’n voorlegging oor hul idee aan, gevolg deur ’n uittreksel wat as leesteater aangebied word, waarna ’n gesprek met insette van die rolspelers en die gehoor volg. Hierdie gehoor sluit onder andere genooide teater- en feesverteenwoordigers, sowel as moontlike beleggers en vervaardigers in.
Teksmark kan gratis deur alle belangstellendes bygewoon word, maar dit is belangrik om teen 23 Augustus te RSVP by www.kknk.co.za/teksmark/. Plek is beperk, so maak seker jy is op die gastelys!
As jy nie die geleentheid by die Baxterteater kan bywoon nie, kan jy die regstreekse stroming van al die sessies op die KKNK se webblad volg.
Vir meer inligting, kontak die KKNK-kantoor by teksmark@kunste.org.za, of skakel 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'