Update
BEAUFORT-WES NUUS - Sylvester, Suid-Afrika se bekendste leeumannetjie, wat twee jaar gelede in die nuus was toe hy twee keer uit die Karoo Nasionale Park by Beaufort-Wes ontsnap het, en veldwagters dae lank op sy spoor gehad het, het pa geword.
Die Kalahari-leeumannetjie is na sy omswerwinge van meer as 370 km in die Sentraal-Karoo, uiteindelik na Kazuko, 'n privaat reservaat aangrensend aan die Addo-Olifant Nasionale Park in die Oos-Kaap, geneem.
Hier het hy gou maats gemaak met Fielies, 'n jonger leeumannetjie, en uiteindelik ook die twee leeuwyfies Angel en Nika ontmoet.
Duidelik het die vriendskap in iets meer ontwikkel. Gerhard de Lange, algemene bestuurder van die reservaat het verlede week met groot trots, aankondig dat Sylvester en Angel twee welpies ryker is.
"Dit was 'n totale verrassing," sê De Lange. "'n Voorbehoedmiddel wat in Januarie 2017 onder elke wyfie se vel ingeplant is, hou sowat 'n jaar, maar ek het nooit eens die moontlikheid oorweeg dat hulle kan dragtig raak nie." Die natuur het egter haar gang gegaan, en volgens De Lange se somme moes die paring reeds in Maart vanjaar plaasgevind. Leeus is 110 dae lank dragtig, en omdat die welpies nou sowat 12 weke oud is, is hulle al in Junie gebore.
"Omdat al die leeus so goed aangepas is in Kuzuko, kon ek nie agterkom Angel is dragtig nie, want almal behalwe Sylvester is bietjie aan die oorgewig kant."
Alhoewel die tekens daar was dat Angel soog, steek leeuwyfies hul welpies 'n ruk lank weg en niemand het hulle gesien nie, ook nie De Lange wat soggens vroeg al sy leeukinders gaan soek nie.
"Vandat hulle gebore is, boer Sylvester in die omgewing van 'n beboste klofie. Al het ek hom nie daar gesien nie, het sy GPS-halsband dit aangedui. Hy het die welpies beslis al meer dikwels as ek gesien," sê hy.
Die welpies is nog te jonk om hul geslag te bepaal, en in hierdie stadium is hulle nog versigtig vir 'n voertuig.
Omdat al die leeus met halsbande toegerus is, weet Gerhard ook dat Sylvester, soos 'n goeie pa betaam, 'n oog oor die welpies hou wanneer Angel en haar sussie Nika gaan jag.
Sylvester en Angel se twee welpies wat al in Junie gebore is, maar wat maande lank suksesvol deur Angel weggesteek is.
Die twee wyfies se oorlewing is ook 'n suksesverhaal, want hulle is wees gelaat toe hulle sowat vyf maande oud was, en Gerhard en sy span het hulle grootgemaak en in die natuur vrygelaat om vir hulself te kan sorg. Volgens Gerhard is dit 'n eerste, want hy en sy span kon nie interaksie hê met hulle nie.
Daarenteen het Sylvester, en Fielies, hulle mens-pa aanvaar en is gemaklik met hom, al was Sylvester na sy onderonsie met 'n span wat weke lank na hom gesoek het, maar skugter vir mense toe hy in Kazuko aangekom het.
"Dit is 'n wonderlike verrassing en 'n baie groot geskenk dat Sylvester, wat byna van kant gemaak is, en Angel, wat eintlik ook nie behoort te oorleef het nie, vandag twee pragtige, gesonde welpies het. Dit bewys maar net weer dat bewaring wat korrek en met omgee toegepas word, 'n verskil kan maak," sê De Lange.
Lees vorige artikels:
- Sylvester die leeu vat uiteindelik vrou
- Sylvester maak hom tuis in Addo
- Sylvester the lion attracts admirers
- Swerweleeu se lot rooskleurig
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'