BEAUFORT-WES NUUS - Sylvester, die rondloperleeu van die Karoo Nasionale Park, wat groot opspraak verwek het toe hy in 2015 uit die park geglip en gaan rondloop het, het goed aangepas in sy nuwe tuiste in Kazuku Lodge in die Oos-Kaap.
"Hy het 'n koalisie gevorm met 'n jong leeumannetjie, Fielies, en twee weke gelede het hulle vir die eerste keer nader kennis gemaak met twee jong leeuwyfies wat saam met hulle in die 15 000 ha Kuzuko kontraktuele area vrygelaat is," sê Gerhard de Lange, algemene bestuurder van Kuzuko.
Die Kuzuko Lodge en reservaat is in privaat besit terwyl die diere in die kontraktuele area aan Addo-olifant Nasionale Park en SANParke behoort.
Terwyl Sylvester in 2015 op vrye voet was, het hy 371 km afgelê en 28 skape, 'n bees en 'n koedoe gevang voordat hy na 'n uitgebreide soektog gevang is.
Daarna is hy in 'n boma in die Karoo Nasionale Park aangehou.
Kort nadat hy in die park vrygelaat is, het hy egter weer ontglip.
Hy is weer aangekeer, maar SANParke was raadop.
Daar is besluit om hom terug te neem na Kuzuko, waar sy ma vandaan gekom het.
Dit was De Lange se taak om Sylvester by Kuzuko te help aanpas.
Sylvester is saam met 'n jong leeumannetjie, Fielies, in 'n boma in 'n 300 ha-kamp geplaas waar twee jong leeuwyfies, Nicka en Angel, grootgemaak is.
In November 2016 is die twee mannetjies in die 300 ha-kamp met die wyfies vrygelaat.
In Januarie vanjaar is al vier leeus in die 15 000 ha area vrygelaat.
Alhoewel hulle gereeld saam met die wyfies gesien word, het hulle eers onlangs met die wyfies begin paar.
"Dié keer gaan daar nie babas wees nie, maar as die leeus ernstig begin paar, kan daar dalk binnekort 'n jong Simba of twee die lig sien," hoop De Lange.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'