OUDTSHOORN NUUS - Suzane Jansen, van die Patriotic Alliance, is verlede Donderdag as nuwe speaker van die Oudtshoorn munisipale raad aangewys en hoop om met haar passie vir gemeenskapsontwikkeling en geslagsgelykheid 'n positiewe verandering in Oudtshoorn te bring.
Suzane vertel dat sy in 2020 na Oudtshoorn teruggekeer het en besef het dat daar verandering in die dorp nodig is, en sy het ook geweet dat sy deel van die verandering kán en wíl wees. Sy glo ook dat sy as vrou 'n rol kan speel om die dorp na 'n blink toekoms te lei.
Vir haar is Vrouedag 'n herinnering aan vroue se rol in die samelewing.
"In my familie is ek die 'Tietie', 'n titel wat groot verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid dra. Ons moet beheer neem in ons gesinne, kerke, plaaslike organisasies en gemeenskappe. Elke dag is Vrouedag, want ons is die moeders, versorgers, maatskaplike werkers en die hart van ons huise en gemeenskappe."
As 'n aktivis vir menseregte, streef sy daarna om alle benadeelde groepe in die samelewing te ondersteun. "Dit is vreemd dat vroue dikwels meer bereid is om mans te ondersteun as ander vroue. Ons doen baie om vroue te bemagtig, maar daar is nog werk om te doen om die gaping te oorbrug," sê sy.
Onder haar leiding as die Wes-Kaapse ondervoorsitter van die Salga Vrouekommissie, is Oudtshoorn die enigste munisipaliteit in die Wes-Kaap wat daarin geslaag het om 'n Artikel 79 Portefeuljekomitee vir die Multi-Party Vrouekommissie te vestig.
"Die politieke wêreld is nie altyd so maklik vir vroue nie. Dit is alombekend dat leierskaprolle oor die algemeen deur mans beklee word, maar ek glo dat vroue as gelykes gesien moet word. Ons as vroue moet ook nie net deel vorm van statistiek nie; ons moet die posisie wat aan ons toevertrou is eien."
Suzane sê sy het by die PA betrokke geraak omdat hul waardes met hare ooreengestem het.
"Ek is op 9 Februarie 2022 as proporsionele raadslid vir die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit aangestel en kort daarna het ek lid van die burgemeesterskomitee geword en infrastruktuur was my portefeulje. Hier het ek geweldig baie van dienslewering geleer."
As speaker wil sy graag met haar agtergrond in sakeontwikkelinge die belangrikheid van ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling beklemtoon.
"As speaker is my rol nie net om orde in die raad te handhaaf nie, maar ook om die publiek se deelname te bevorder en kritieke inligting met ons gemeenskap te kommunikeer. Deursigtigheid en inklusiwiteit is van kardinale belang."
Suzane sê sy is gereed om haar moue op te rol en aan verskeie projekte te werk wat vroue en jeug in die dorp kan bevorder. Volgens haar is van die projekte wat sy wil aanpak die AK47 Oudtshoorn jeugteater mentorskap-program, programmeer- en kodering-vaardighede vir die jeug, verkryging van sanitêre doekies vir skoolmeisies in samewerking met die Wes-Kaapse departement van onderwys en om fokus te plaas op vroue in sport.
Haar advies aan jong vroue wat die politiek of staatsdiens wil betree, is om God die middelpunt van hul lewe te maak, in hulself te glo en nooit te twyfel nie.
"Wees goed vir jouself, wees aktief in jou gemeenskap en staan vas. Jy het nie baie geld nodig om verandering te bring nie, net 'n ingesteldheid van verandering en 'n wil om dit te doen. Ons het vroue in die politiek nodig, want ons kyk na situasies vanuit 'n ander perspektief. Staan op, vroue! Staan op!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’