CALTIZDORP NUUS - Met 'n helder glimlag en 'n skerp sin vir humor vier Susanna Julie op 1 November haar 101ste verjaarsdag, 'n merkwaardige mylpaal vir die geliefde inwoner van die Vygieshof-tehuis in Calitzdorp.
Julie is op Amalienstein, anderkant Ladismith, gebore en beskryf haarself as "nog steeds perdfris en gesond", behalwe vir haar gehoor en die gewone kwale wat ouderdom bring.
Sy het in 2018 'n inwoner van Vygieshof geword, waar sy volgens personeel en medebewoners altyd vrolik is.
Haar man is 32 jaar gelede oorlede. Hulle het ses kinders gehad. Terwyl sy terugdink aan haar lang lewe, sê sy daar is geen geheime resep vir 'n hoë ouderdom nie.
"Die Bybel sê: 'Eer jou vader en jou moeder sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.' Ek het al die jare my ouers geëer en hard gewerk vir hulle, dit is hoekom ek glo ek so lank lewe," sê sy met 'n glimlag.
Julie, wat steeds haar lewenslus behou, vertel dat sy dit "vreeslik geniet" om by Vygieshof te woon.
Haar positiewe gees en waardigheid is vir almal wat haar ken 'n inspirasie en 'n lewende bewys dat ouderdom slegs 'n getal is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’