OUDTSHOORN NUUS - Daar word tans aandag gegee aan verskeie strate in Oudtshoorn wat dringend herstel moet word.
In sommige strate word skade wat deur gebarste pype aangerig is herstel en in woonbuurte word strate met swak ryvlakke herseël.
Volgens munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, word geld wat deur die regering aan die munisipaliteit as deel van munisipale infrastruktuurfonds toegeken is, tans gebruik vir die herseël van strate in vooraf benadeelde gebiede.
'n Goedgekeurde kontrakteur, wat ook deur die George-munisipaliteit gebruik word, doen die herseël van die strate. Plaaslike subkontrakteurs word ook ingespan om die reusetaak van herstel van slaggate waaroor inwoners reeds lank kla, aan te pak.
Dinsdagoggend was 'n span van die subkontrakteur in Bloemstraat besig waar die gedeelte van die straat tussen die rivier en Jan van Riebeeckweg deurtrek was van slaggate.
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
"Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'