Update
OUDTSHOORN NUUS - Studente van Suid-Kaap Kollege het verlede Vrydag 'n optog voor die kollege se hoofgebou gehou weens die Nsfas-beurse wat nog nie uitbetaal het nie.
Volgens een van die studente beteken dit ook dat hulle nie hulle verblyf kan betaal nie.
"Van die studente het letterlik verlede week op straat geslaap. Ons het die situasie aan die verhuurders verduidelik, maar hulle kan ons nie huisves as ons hulle nie betaal nie. Ons verstaan hulle punt ook want hulle het ook uitgawes wat aangegaan moet word, maar ons almal ken nie mense in Oudtshoorn nie en het dus nie verblyf nie.
Die klasse word ook nie gestop nie, so as ons teruggaan na ander dorpe waar ons woon, mis ons weer die klasse."
Volgens nog 'n student is hulle bewus van die feit dat dit 'n landswye probleem is, maar betaal Nsfas glo geld aan die kollege wat dit weer aan die studente moet uitbetaal.
"Die kollege moet dus vir ons antwoorde kan gee oor hoe die uitbetalings gaan werk of minstens ons kan help met alternatiewe verblyf.
"Die hoof van die kollege het ons by drie geleenthede toegespreek, maar kon steeds nie vir ons duidelike antwoorde gee nie."
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die hoof van die George-kampus, Tercia Terblanche, gestuur, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.
Studente moes verlede week op straat slaap as gevolg van Nsfas-beurse wat nie aan die studente uitbetaal is nie:
Vorige artikel: Studente betoog oor Nsfas-gelde
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'