OUDTSHOORN NUUS - Nadat hy in 1981 as groentjie by Hoërskool Oudtshoorn aangestel is, het Herman Marais aan die einde van verlede kwartaal, na 37 jaar diens afgetree.
Marais is aangestel as aardrykskunde en geskiedenis onderwyser en het vir drie jaar in Huis Archer, Struisies se koshuis, gewoon. In 1983 trou hy met Adèle wat ook 'n onderwyser is. Hy is sommer uit die staanspoor by sportafrigting betrek en dis veral by atletiek en landloop waar hy sy stempel afgedruk het.
Marais was vir 'n hele aantal jare op die bestuur van SWD-atletiek en -landloop waar hy onderskeidelik sekretaris en voorsitter was. Sy ander passie is gholf waar hy sedert 2004 betrokke was by die bestuur van SWD skole-gholf,
Marais het homself nie slegs op sportgebied laat geld nie, maar is ook lief vir akademiese studies. Hy verwerf 'n honneursgraad in geografie, nagraadse diplomas in bemarking en eiendomswaardering sowel as 'n B.Ed-graad met lof. Hy is tot departementshoof bevorder waar hy 'n groot bydrae met die reusetaak van opstel van skool-, toets- en eksamenroosters gemaak het. Heelwat leerlingrade is deur hom gementor en ingelei in hul leierskaprolle. Na sy aftrede, sê hy, gaan daar meer tyd wees vir fietsry, rolbal, reis, kamp, lees en skryf en dalk weer studeer. Sy boodskap aan Struisies is: "Hou by julle tradisies, bly die voorlopers met nuwe inisiatiewe, gaan groot, onthou altyd waarvandaan jul krag kom. Per Laborem Ad Astra."