OUDTSHOORN NUUS - 'n Geliefde leerkrag van Hoërskool Oudtshoorn, Yvonne Robinson (60), is die afgelope naweek skielik oorlede.
Struisies noem in 'n persverklaring dat hulle met swaar harte afskeid neem van die geliefde onderwyseres, mentor en vriendin.
"Haar vriendelikheid, wysheid en onwrikbare toewyding het 'n onvergeetlike impak op Hoërskool Oudtshoorn en die lewens van soveel Struisies gelaat.
Sy was meer as 'n opvoeder, sy was 'n leidende lig, altyd gereed met 'n warm glimlag, bemoedigende woorde en 'n oop hart. Sy het nie net deur haar onderrig geïnspireer nie, maar deur die liefde en sorg wat sy aan almal wat sy ontmoet het, getoon het."
Sy het in 1988 haar onderwysloopbaan as Engels-opvoeder by Hoërskool Krugersdorp begin. Sy was sedert 1995 vakhoof van die Engels-departement en is sy op 1 Januarie 2003 as opvoeder en Engels-vakhoof by Struisies aangestel.
Oor die afgelope 22 jaar het sy, as omgeemens en formidabele vakkundige diep spore in Struisieland en Eden en Sentrale Karoo-onderwysdepartement getrap.
Van haar goeie eienskappe wat die skool altyd sal bybly, is haar integriteit, goeie werksetiek, vaste waardes, nougesetheid en vermoë om as vakkundige haar leerders met omgee-hart te motiveer en met passie te onderrig.
Sy laat haar broer Bertie Robinson en suster Valerie Seiler agter. Teen saktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’