OUDTSHOORN NUUS - Haweloses wat die area rondom 'n wegneemete-onderneming in Adderleystraat as hulle tuiste beskou, het inwoners radeloos. Volgens inwoners in die omgewing van die kruising van Loop- en Adderleystraat raak die situasie nou onuithoudbaar.
"Hier slaap sommige aande tot vyf mense. Hulle gebruik die sypaadjie as 'n toilet en strooi die rommel wat hulle uit sakke grawe ook nog hier," het 'n inwoner van Loopstraat Dinsdag gesê.
Sy sê dit is vir haar hartseer dat die straat met sy geskiedkundige geboue waar sy al dekades woon, so agteruitgegaan het. "Aan die bopunt van die kort straatjie is 'n vervalle sakeperseel wat in jare nog nooit geverf of onderhou is nie, en aan die onderpunt is die pragtige Le Roux-dorpshuis wat deur toeriste besoek word. Tussen die twee punte is ons huise wat ons netjies en skoon hou."
Loopstraat was 'n aantal jare gelede een van die tonele wat vir die verfilming van die rolprent Klein Karoo gebruik is, juis as gevolg van die straat se atmosfeer met historiese huise en bome.
Nog 'n inwoner wat 'n gastehuis naby die kruising besit, sê hulle is radeloos. "Ons ontvang internasionale gaste, maar ons kan nie ons stoep gebruik nie, want dan moet ons kyk hoe mense hulself teen die mure en onder die besigheid se afdak verlig. Besoekers kan nie verstaan hoekom die dorp dit toelaat dat so iets dag na dag plaasvind nie."
Volgens haar het hulle die probleem al verskeie kere aangemeld, maar skynbaar sonder enige vrug.
Tydens die Oudtshoorn Courant se besoek Woensdagmiddag was twee haweloses teen vieruur reeds onder hulle komberse op die sypaadjie waar hulle verbygangers gevra het vir geld.
Die hoek van Loop- en Adderleystraat waar haweloses gereeld slaap. Foto's: Hannes Visser
'n Man wat toevallig daar stilgehou het, het gesê hy is 'n rukkie gelede by 'n parkeerterrein deur wetstoepassers verwyder toe hy op die sypaadjie vrugte verkoop het. "Ek was in niemand se pad nie, maar ek moes padgee. 'n Mens mag dus nie op 'n eerlike wyse geld verdien nie, maar jy mag maar op enige plek slaap, mors en sommer jou toiletgoed in die openbaar doen, en dit nogal langs 'n plek wat kos verkoop."
Die twee mans wat Woensdagmiddag hulle intrek onder die afdak geneem het, was Donderdagoggend teen negeuur steeds onder hul komberse. 'n Derde een wat om die hoek in Loopstraat geslaap het, was reeds weg.
'n Navraag oor die situasie is aan die munisipaliteit gestuur. Hulle reaksie of moontlike optrede sal volgende week geplaas word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'