OUDTSHOORN NUUS - Met die bespreking van 'n agendapunt oor die Grootkop-stortingsterrein buite Oudtshoorn tydens Maandag 4 Mei se raadsvergadering het verskeie raadslede 'n dringende beroep gedoen dat die stortingsterrein oor naweke toeganklik moet wees.
DA-raadslid Johan Fourie het verduidelik dat talle inwoners slegs oor naweke tuinvullis en bourommel by die terrein kan stort.
Met die sluiting van die terrein oor naweke het mense eenvoudig hul rommel buite die stortingsterrein en selfs op plekke in en om die dorp begin aflaai.
Sy versoek is deur ander raadslede ondersteun.
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Ian Avontuur, het die raad meegedeel dat die terrein oor naweke gesluit is aangesien die kontrakteur wat na die terrein omsien net vanaf Maandag tot Vrydag aan diens is.
Aangesien daar niemand oor naweke is wat toesig hou en bepaal waar afval gestort moet word nie, het dit tot ongewenste gedrag van mense gelei, en is daar besluit om die terrein naweke te sluit.
Fourie het gesê dat hy nie kan saamstem met die argument nie aangesien daar munisipale werknemers en wetstoepassers is wat oor naweke by die stortingsterrein aangewend kan word.
"Ons moet leer om uit die boks te dink en ander oplossings vind," het hy gesê en genoem dat sakkrappers 'n toenemende probleem in die dorp is en dat die probleem vererger word omdat mense nou oor naweke hul vullis in die dorp los.
Hy het bygevoeg dat raadslede onder inwoners deurloop omdat besluite deur die administrasie geneem word sonder om die gevolge wat dit vir die gemeenskap inhou, in ag te neem.
ANC-raadslid Jan van der Ross het die heropening van die stortingsterrein ondersteun, maar bygevoeg dat sakkrappers 'n realiteit is en dat dit vir talle mense 'n inkomste is.
"Kom ons as inwoners dink ook uit die boks en sorteer ons afval voordat ons dit uitsit sodat die mense nie in sakke hoef te grou nie. Dan is die goed wat hulle herwin, soos blikkies en bottels reeds eenkant gesit."
Avontuur het die versekering gegee dat daar dringend na maniere gekyk sal word om die stortingsterrein weer oor naweke, of dan ten minste Saterdae oop te hou. Hy het die raad gevra om hom 'n klein rukkie te gee sodat sy departement en die munisipale bestuurder na moontlikhede kan kyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’