Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die feit dat hy in 'n opslaanhuis woon en geen werkswinkel het nie, weerhou 'n kranige meubelmaker nie daarvan om pragstukke te maak nie. Johannes Wyers woon in 'n "blinkhuisie" in die stowwerige strate van Rose Valley waar hy elke dag sy meubels maak. Saam met hom woon sy vrou Jacqueline (39) en vier van hulle sewe kinders in dié tydelike huis - in afwagting op 'n permanente huis.
Hy het homself as meubelmaker bekwaam nadat hy as 17-jarige seun vir sy oupa gehelp het met houtwerk. Hy het in Oudtshoorn grootgeword en woon die afgelope agt jaar in Rose Valley; eers vir ses jaar in 'n opslaanhut en die afgelope twee jaar in die tydelike oorgangskamp met die sogenaamde blinkhokke.
"Toe ek 19 was het ek my eerste meubelstuk gemaak. Dit was 'n bedieningstafel van imbuiahout vir landdros Daniel Boks. Van toe af maak ek meubels."
Weyers het 'n afdak langs sy sinkhuis, gebou waar hy sy gereedskap en hout stoor.
"Ek het nie plek in die huis of onder die afdak om te werk nie."
Hy dra elke dag elke oggend al sy gereedskap en sy werksbank in die straatjie voor sy huisie in om te werk.
"Ek sal graag 'n werkswinkel iewers wil kry waar ek uit die weer uit kan werk," het hy Dinsdagoggend gesê toe die Oudtshoorn Courant hom besoek het.
Weyers is tans besig met 'n bestelling van 11 tafels en 44 stoele vir 'n gastehuis in Mosselbaai. Die pote van die stoele en die tafels word op sy draaibank gemaak. Hy het die draaibank as gedeeltelike betaling vir die bestelling ontvang.
'n Spieëlkas wat Johannes vir sy vrou gemaak het. Hy spaar tans om spieëls te laat sny vir die rame.
Daar is verskeie meubelstukke in die huis wat hy self gemaak het. Een daarvan is spieëlkas wat hy vir sy vrou gemaak het.
"Die tafel kort nog spieëls en hy het bietjie ekstra moeite ingesit en patrone op die spieël se raam met die hand uitgekerf," spog sy vrou.
Volgens Weyers gaan hy eendag, wanneer hy 'n groot huis het, vir sy vrou 'n klomp mooi meubels maak.
"Ek sal haar nie afskeep nie. Ek kan mos nie net vir ander mense mooi goed maak en nie vir die vroutjie nie," skerts hy.
As hy nie bestellings het nie stap hy straataf met 'n meubelstuk op die skouer om kopers te soek.
"Ek hoef nooit regtig vêr te loop met die meubels nie. Die mense koop dit nogal vinnig by my. Ek sal ook soms die groter meubels op Facebook adverteer."
Die werkswinkel wat Johannes elke oggend in die straat inrig en saans weer moet wegpak.
Weyers sê sy seuns help hom so af en toe om die meubels te maak.
"Hulle stel nog nie heeltemal belang daarin soos ek nie, maar ek kan sien hulle wil graag leer. Miskien as hulle bietjie groter is gaan hulle ook meubels soos hul pa maak."
Een van Johannes en Jacueline se kinders onder die afdak waar johannes saans se gereedskap en meubels stoor.
En wat is sy grootste behoefte op die oomblik? "'n Lekker groot werkswinkel wat ek elke aand net kan toesluit en môre-oggend weer oopsluit en dadelik begin werk."
Weyers se kontaknommer is 078 060 3947.
Lees 'n vorige artikel: Straatmeubelmaker se passie vir hout
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'