Gallery
OUDTSHOORN NUUS - ’n Stilbaaier, Rudolf Meyer (73), het Maandag 28 April die Best of Oudtshoorn Lottery gewen nadat sy gelukkige nommer, 77, getrek is vir ’n heerlike vakansie in die Klein-Karoo. Die trekking is gedoen tydens ’n spesiale geleentheid by die Ostrich Emporium. Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het die trekking gedoen terwyl Pienaar Muller, projekbestuurder van OSI, en Dave van der Walt van OSI toegekyk het.
Kaartjies is deur die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) verkoop om geld in te samel vir noodsaaklike opgraderingswerk by die NA Smit-swembad se pawiljoen. Altesaam 89 kaartjies is verkoop.
Die prys is ter waarde van R70 000 en is vir vier persone en strek vanaf 28 Junie tot Saterdag 5 Julie en sluit alle akkommodasie, aktiwiteite en etes in.
Die volgende plekke in Oudtshoorn vorm deel van die prys: De Zeekoei, Safari Volstruisplaas, La Plume Spa, Mooiplaas, Cango Wildlife Ranch, Nostalgjie, Surval Olyflandgoed, Black Swan, Sante Fe Spur, Wilgewandel-vakansieplaas, Kango-grotte, Oude Meul, Karusa, Buffelsdrift Game Lodge, Karoopot en Chandelier Game Lodge.
Onkant gevang
In gesprek met Meyer noem hy aan Oudtshoorn Courant dat die skok van die wen nog stadig besig is om werklikheid te word.
“My dogter, Zanie Smit woon in Oudtshoorn. Haar twee seuns is by tweekamp in Oudtshoorn betrokke. My dogter het my vertel van die kaartjies en dat geld ingesamel word om noodsaaklike opgradering aan die pawiljoen by die NA Smit-swembad te doen. My kleinkinders swem gereeld in swemgalas hier so dit is ’n goeie inisiatief om te ondersteun en het ek ’n kaartjie gekoop.”
Fotogalery: Stilbaaier wen R70 000 vakansie in Oudtshoorn
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’