Update
PRINS ALBERT NUUS - Die munisipaliteit het tot op datum geen skriftelike antwoorde gegee op navrae van Oudtshoorn Courant oor 'n omstrede gebou wat in die dorp opgerig word nie.
Die gebou waar nuwe bouwerk sowat twee weke gelede weer begin het, het in November gedeeltelik inmekaargetuimel waarna opdrag gegee is dat dit gesloop moet word.
Oudtshoorn Courant het reeds in Augustus navrae aan die Prins Albert-munisipaliteit gestuur nadat inwoners en besigheidseienaars beswaar aangeteken het teen die ontwikkeling waar 'n supermark en drankwinkel beplan word.
Daar is aangevoer dat die munisipaliteit nie die voorgeskrewe prosesse en openbare deelname nagekom het nie. Die navrae is nooit beantwoord nie en teen November het die gebou oorkant die Spar in die hoofstraat, reeds dakhoogte gestaan en het toe gedeeltelik inmekaargetuimel.
Op 25 November het Oudtshoorn Courant berig dat twee mure van die halfvoltooide gebou onderskeidelik op 14 en 21 November omgeval het. 'n Besorgde inwoner wat 'n afgetrede ingenieur is, het glo by verskeie geleenthede sy kommer oor die veiligheid van die gebou aan die munisipaliteit oorgedra.
Ter voorbereiding van berigte is verskeie vrae rondom die goedkeuring en monitering van die bouery aan die munisipaliteit gestuur. Nie een van die vrae is beantwoord nie. In 'n mediaverklaring het die munisipaliteit gesê 'n aftakelingsbevel is aan die ontwikkelaar gegee en daar is op 24 November begin om die struktuur te sloop.
Volgens die mediaverklaring het die ontwikkelaar glo na goedkeuring van die oorspronklike planne aansoek gedoen om 'n alternatiewe boumetode te gebruik. Daar is glo toestemming daarvoor verleen, maar volgens die munisipaliteit het die ontwikkelaar daarvan afgewyk wat daartoe gelei het dat die strukture meegegee het en gesloop moes word. Volgens die mediaverklaring is die ontwikkelaar toestemming gegee om volgens die oorspronklike bouplanne voort te gaan en intussen het bouwerk op die perseel weer fluks gevorder.
Die halfvoltooide gebou voordat dit in opdrag van die munisiplaiteit gesloop moes word.
Oudtshoorn Courant het in November onderneem om te wag op verdere reaksie van die munisipaliteit voordat daar oor die kwessie van goedkeuring van bouplanne, terreininspeksies en openbare deelname berig word, maar daar is geen reaksie ontvang nie.
Onduidelikhede waarop die munisipaliteit tot dusver nie bereid was om te reageer nie, is die volgende kwessies:
- Wie het die aanvanklike hersonering, ontwikkeling en bouplanne goedgekeur?
- Is die bouperseel gereeld deur 'n bouinspekteur besoek om te bevestig dat daar volgens spesifikasies gebou word een wie was die bouinspekteur wat verantwoordelik was vir die inspeksies?
- Wanneer het die ontwikkelaar aansoek gedoen om van die bouplanne af te wyk en waar is die nuwe planne wat hy ingedien het?
- Wie was die boukontrakteur, raadgewende ingenieur en argitek wat by die oprigting van die gebou betrokke was, aangesien daar geen bord by die perseel opgerig was wat hierdie inligting vertoon het nie?
- Hoe het dit gebeur dat 'n gebou dakhoogte bereik sonder dat amptenare besef het dat die konstruksiemetode onveilig is? Die blyk dat die nuwe gebou 'n U-Save supermark en 'n drankwinkel sal huisves en die aanvanklike plan was dat dit reeds voor die einde van die jaar sou oopmaak.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'