Update
PRINS ALBERT NUUS - Die omstrede gebou wat die afgelope twee maande in die dorp verrys het, moet onmiddellik gesloop word.
Die munisipaliteit het Oudtshoorn Courant Woensdagoggend ingelig dat 'n dringende slopingsbevel hierdie week uitgereik is.
Dit volg nadat twee groot mure van die gebou onderskeidelik op Sondag 14 November en Sondag 21 November omgeval het.
Oudtshoorn Courant het reeds in Augustus berig dat inwoners en 'n sakeman ontevrede was omdat die munisipaliteit 'n aansoek om hersonering en die oprig van 'n winkelgebou skynbaar sonder die nodige publieke deelname goedgekeur het.
Navrae wat in Augustus aan Annelene Vorster, die vorige munisipale bestuurder, gerig is, is nooit beantwoord nie en die ontwikkelaar het voortgegaan om die gebou te laat oprig.
Volgens 'n bron was daar skynbaar bouplanne vir 'n baksteengebou goedgekeur, maar die ontwikkelaar wat in Stellenbosch woon, het glo intussen besluit om 'n alternatiewe boumetode met staal en sement te gebruik.
Werkers het gister, Woensdag 24 November, begin om die onveilige struktuur af te takel. Foto: Marlene Malan
Die munisipaliteit het Woensdag te kenne gegee dat hulle later hierdie week breedvoerig op al die vrae sal reageer wat Maandag deur Oudtshoorn Courant gestuur is. Die hele gebou moet teen eerskomende Maandag tot op die grond afgebreek wees en daarna sal die proses waarskynlik van voor af moet begin.
Dié oefening het die ontwikkelaar glo reeds miljoene uit die sak gejaag.
Volgens briewe en inligting wat Oudtshoorn Courant ontvang het, was daar nog geen reaksie op prokureursbriewe wat deur ander sakemanne op die dorp aan die munisipaliteit gerig is om die proses te staak nie.
Oudtshoorn Courant het onderneem om te wag op verdere reaksie van die munisipaliteit voordat daar oor die kwessie van goedkeuring van bouplanne, terreininspeksies en openbare deelname berig word.
Dit blyk dat die nuwe gebou 'n U-Save supermark en 'n drankwinkel sou huisves en glo reeds voor die einde van die jaar sou oopmaak.
Die gebou op Saterdag 20 November, 'n dag voordat 'n tweede muur omgeval het. Foto's: Marlene Malan
VORIGE ARTIKEL: Toekoms van gebou onseker
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'