OUDTSHOORN NUUS - Bykans 'n maand na die gedenksteen wat in Baron van Reedestraat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit geskuif is en in die proses beskadig is, is daar steeds geen aanduiding oor wat met die steen gaan gebeur nie.
Die stukke wat in die verskuiwingsproses afgebreek het, lê ook steeds op die middelmannetjie.
Die gedenksteen is 30 jaar gelede op die middelmannetjie in Baron van Reedestraat deur die munisipaliteit en bewaringskomitee opgerig toe daar besluit is om die straat te verbreed.
Met die heropening van die straat was daar 'n groot seremonie en 'n straatmyl waar die steen ook onthul is.
Die Oudtshoorn Courant het in Januarie berig dat die steen effe geskuif het na 'n swaar voertuig dit vermoedelik gestamp het. Die munisipaliteit het daarna besluit om dit na 'n veiliger plek te skuif.
'n Gedeelte van die gedenksteen het losgekom en afgebreek toe munisipale werkers die steen met kettings opgehys het.
Volgens Hazel Jonker van Heritage Oudtshoorn Erfenis het die permitkommitee reeds 'n vergadering gehou waarvan die munisipaliteit deel was.
"Ons het aanbeveel dat die steen in die museum se tuin opgerig word sodat toeriste dit steeds kan besigtig. Dit is nou in die munisipaliteit se hande.
Die stukke van die gedenksteen wat tydens die verskuiwing afgebreek het en steeds op die middelmannetjie lê. Foto's: Liezl van Niekerk
Dit is egter kommerwekkend dat die stukke wat afgebreek het steeds op die middelmannetjie lê. Daar is 'n gevaar dat dit beskadig kan word en is ook 'n gevaarrisko vir inwoners wat op die middelmannetjie loop."
Die Oudtshoorn Courant het in Januarie 'n navraag aan die munisipaliteit gestuur. Nog 'n navraag dié week oor wat met die gedenksteen gaan gebeur en waar dit tans is is ook nie beantwoord nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'