OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse De Grootvoël-motorfiets-saamtrek het van Saterdag 30 November tot Sondag 1 Desember gesorg dat motorfietse in Oudtshoorn brul.
Motorfietsryers van onderskeie klubs het die saamtrek bygewoon en uitgespan by die Cango Mountain Resort buite die dorp. Buiten hul gewone massarit deur die dorp het hulle ook by die Oudtshoorn-vliegveld byeengekom vir motorfietswedrenne.
In gesprek met klubpresident van die Bikers Heart Riders van Oudtshoorn, Alex van der Walt, noem hy dat hul hierdie jaar fondse ingesamel het vir die Irma Bruschi Kankerhuis in George, asook Aurial College in Oudtshoorn wat hulp nodig het met hul sportterrein.
"Ons het tans nog nie finale getalle van hoeveel ryers die saamtrek bygewoon het nie. Wat ek wel kan beklemtoon is dat die saamtrek sonder enige insident of ongeluk plaasgevind het waaroor ons baie dankbaar is. Die saamtrek gaan elke jaar groei en is dit 'n enorme ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn. Ons het die hele Cango Mountain Resort uitgeboek en heelwat gastehuise in die dorp was ook die naweek vol bespreek. Buiten vir verblyf spandeer die motorfietsryers ook geld by plaaslike besighede wat beslis 'n hupstoot is voor die Desember-seisoen."
Die Bikers Heart Riders is ter ere van wyle Mark Riddles gestig. "Sy twee dogters, Michay en McKayla Riddles, asook hul ma Esme het hierdie jaar die saamtrek ter ere van hul pa bygewoon." Volgens van der Walt is hul grootste doel om goed te doen en 'n verskil te maak ter ere van Riddles. "Hy was ons familie en het ons aan motorfietse bekendgestel, ons het die klub gestig en deel geword van die SWD-familie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’