OUDTSHOORN NUUS - Bekende klipkunstenaar en skrywer, Joost Pyck, stel Maandag 7 Oktober sy nuwe prosa-bundel, Sprokkel 2 by Beans Cafe bekend en almal wat lief is vir lees is welkom om die geleentheid by te woon.
Die nuwe bundel prosa, oftewel kortverhale is in Afrikaans, maar deurspek met die Vlaamse taal. Dit is die manier hoe hy skryf en handel oor dinge wat hy self beleef het. Hy skryf soos hy praat wat dit meer uniek maak.
In gesprek met Oudtshoorn Courant verduidelik hy dat hy uit verveeldheid in die aande begin prosastukke skryf het. Hy noem sy prosa sprokkels omdat dit kort skryfstukke is.
"My skryfstyl is Afrikaans met doelbewus hier en daar 'n gepaste Vlaamse woord. Daarom heet my manier van skryf 'Sprokkel Afrikaans'.
Hoekom hy in Afrikaans en nie Nederlands skryf nie, antwoord hy ernstig: "Wel, my huistaal is nou Afrikaans en as Vlaming is ek ook baie taalbewus. En omdat Afrikaans onder druk is, is dit my bydrae om die taal te ondersteun."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’