OUDTSHOORN NUUS - Die Prince Albert-leesfees is om die draai en vanjaar kan besprekings reeds vroegtydig by Quicket gedoen word. Die Leesfees is vanaf 30 Augustus tot 1 September en vind by die ikoniese The Showroom-teater plaas.
Hierdie fees, wat reeds in 2012 die eerste keer plaasgevind het, lok jaarliks skrywers en lesers van oor die hele land heen.
Kyk wie tree op
Vanjaar se program bied nie net skrywers en boeke aan nie, maar ook die bekroonde film, Hans steek die Rubicon oor, van Rudi van Rensburg asook musiek van Petronel Baard en die heel eerste opelug Digkuns met Sonop by die Kritiekomkoppie waar digters hulle werke gaan voorlees.
Skrywers, digters en musikante om na uit te sien is Sidney Gilroy, Stefaans Coetzee, Chris Vorster, Jeanette Ferreira, René Bohnen, Elizabeth Eksteen, Nigel Peddie, Riku en Jacki Latti, Lynthia Julius, Clinton V du Plessis, Hannes Visser, PP Fourie en Anschen Conradie. Die fees word afgesluit met ‘n ete by Local Roots waar die bekende Sally Andrew oor haar splinternuwe kookboek, Recipes to die live for gesels. Die eienaar van Caravan Press, Karina Szczurek gesels ook met Andrew Brown oor sy boek, The Bitterness of Olives.
Vir kinders
Die leesfees gaan weer gepaard met ‘n Leeskonferensie vir leerders, Elke kind wil lees, wat deur die ATKV moontlik gemaak word, en reeds op Donderdag 29 Augustus begin. Anzil Kulsen is weer ‘n integrale deel van hierdie program met haar skryfkursus aan leerders.
Skryf is goed vir die siel
‘n Skryf- en digkunssessie, Ontdek jou eie storie, wat onlangs in Bloemfontein aangebied is, word Vrydag 30 Augustus vanaf 09:00 tot 15:00 deur Hannes Visser aangebied. Vir verdere besonderhede hieroor kontak hom by 083 467 1522.
Daar is nog geleentheid tot 25 Julie om in te skryf vir die Prince Albert Leesfees se skryfkompetisie en te deel in prysgeld van R6 000 wat deur Cordis Trust geskenk is. Besonderhede oor die skryfkompetisie, sowel as die volledige Feesprogram is op die Facebook-blad van Prince Albert Leesfees beskikbaar.
Vir navrae kontak The Showroom by 023 007 0050 of Reinie by 073 281 889.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’