OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het verlede Vrydag, 25 Julie, tien spesiaal aangepaste voertuie aan verskeie nie-regeringsorganisasies wat in die gestremdheidsektor werk, oorhandig. Dit is organisasies wat deur die departement gefinansier word.
Die oorhandiging het in Maitland, Kaapstad plaasgevind.
Die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) in Oudtshoorn se Sonskyn-dagsorgsentrum was een van die gelukkige ontvangers van so ’n voertuig.
Volgens Monique Mortlock-Malgas, woordvoerder van die departement, sal die aangepaste voertuie verseker dat kinders met ernstige en diepgaande intellektuele gestremdhede bekostigbare toegang tot gehalte basiese onderwys het.
Volgens haar is die organisasies versprei oor die provinsie en bied ’n reeks ondersteuningsdienste vir kinders en hul gesinne.
Carley Delport, ’n maatskaplike werker van APD Oudtshoorn, het gesê: “Die bus beteken die wêreld vir ons, veral omdat ons in die landelike gebiede rondom Oudtshoorn werk. Ons tel kinders van elke hoek op, so dit sal die wêreld vir ons beteken.”
Die departement het saam met die Wes-Kaapse departement van mobiliteit aan hierdie projek gewerk.
Die provinsiale minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het gesê: “Wanneer ons vervoerstelsels ontwerp met ons kwesbaarste in gedagte, skep ons ’n meer sorgsame en inklusiewe samelewing vir almal.
Hierdie vennootskap met die departement van maatskaplike ontwikkeling gaan oor meer as net die vervoer van mense, dit gaan oor die herstel van waardigheid, die oopmaak van deure na geleenthede, en die versekering dat niemand agtergelaat word nie, ongeag hul omstandighede of vermoëns.”
Tydens die oorhandigingseremonie het die provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, Jaco Londt, aangekondig dat die departement ook die organisasies voorsien van ’n vervoersubsidie, befondsing vir versorgers en die aanstelling van ’n programimplementeerder om te help met onderwysbehoeftes, saam met die provinsiale departemente van onderwys, en gesondheid en welstand.
“As ’n Wes-Kaapse regering het ons oor die jare hard gewerk om ons verantwoordelikheid na te kom om te verseker dat organisasies wat onderwys bied aan kinders met ernstige en diepgaande gestremdhede, toegerus is met die nodige hulpbronne om hul werk voort te sit. Vandag se oorhandiging is ’n bewys van die krag van vennootskappe, want ons sou dit nie kon doen sonder die Wes-Kaapse departemente van mobiliteit, onderwys, en gesondheid en welstand nie,” het hy gesê.
Volgens hom is dié voertuie die lewenslyne vir kinders met spesiale behoeftes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’