Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Hulle hoop om na vier maande en meer as 7 000 km se fietstrap in Kaïro aan te kom. So sê Elbert en Syneke Eachterstraat van Nederland wat op 20 Februarie uit Kaapstad vertrek het op hulle fietstoer deur Afrika.
Elbert, 'n afgetrede siviele ingenieur, en Syneke woon in Amsterdam en is gesoute fietsryers. Volgens hulle was hulle uitdagendste toer een van bykans 'n jaar oor 'n afstand van 20 000 km in Suid-Amerika.
"Ons wil graag eendag kan spog dat ons elke vasteland in die wêreld op ons fiets deurkruis het," sê Elbert. Vir die paartjie gaan dit nie slegs oor die uitdaging van 'n fietstoer nie; hulle samel ook geld in vir 'n internasionale organisasie NETKIDZ wat wêreldwyd geld aan behoeftige kinders bewillig. Die Oudtshoorn Courant het dié twee Maandag op hulle fiets in De Rust aangetref waar hulle vinnig stilgehou het om bene te rek nadat hulle die oggend uit Oudtshoorn vertrek het. Die gesamentlike massa van die twee en hulle bagasie is meer as 230 kg en volgens hulle is die hitte hulle grootste uitdaging.
"Ons is gewoond aan lae temperature en die hitte het ons bietjie onkant gevang," het Elbert gesê.
Behalwe vir klere, kamptoerusting, fietstoerusting en 'n noodhulpsakkie, maak hulle ook seker dat hulle genoeg kos en water (15 liter) het vir drie dae. Hulle bespreek nie akkommodasie vooruit nie en kampeer sommer langs die pad as hulle nie 'n oornagplek kry nie.
Maandag was hulle onderweg na Willowmore, maar hulle het aangedui dat hulle waarskynlik nie die dorp sal haal nie en iewers onderweg sal oorslaap of hulle tentjie opslaan.
Oor veiligheid het hulle gesê daar was een of twee geleenthede waar hulle effens onveilig gevoel het, maar oor die algemeen was hulle rit sover sonder voorval en die mense wat hulle op pad teëkom is vriendelik en behulpsaam.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Cape to Cairo on pedal power
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'