OUDTSHOORN NUUS - Die matriekeindeksamen is volstoom aan die gang, en vir duisende gr. 12-leerders regoor die land is hierdie finale eksamen die toppunt van hul skoolloopbaan.
Die druk is hoog, en baie leerders ervaar intense spanning en angs terwyl hulle hul akademiese prestasie wil verseker.
Terwyl die akademiese las swaar weeg, kan ouers en gesinne 'n groot rol speel om hierdie tyd vir hul kinders draagliker te maak.
Natasha Uys, voorligtingsielkundige van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het 'n paar wenke gedeel oor hoe ouers die kinders kan help om die spanning te hanteer.
Herken die tekens van spanning of depressiewe gemoedstoestand
Wees op die uitkyk vir:
- Verandering in slaappatroon: Te min slaap of te veel slaap.
Eetgewoontes: Verlies aan eetlus of te veel eet. - Buierigheid: Meer geïrriteerd of emosioneel (huilerig) as normaal.
- Vermindering aan deelname van sosiale aktiwiteite: Vermyding van vriende of aktiwiteite wat hulle normaalweg geniet.
- Neem nie meer deel aan stokperdjies of belangstellings wat hul voorheen geniet het nie.
- Opmerkings of ‘n gewaarwording wat kan dui op ‘n gevoel van hopeloosheid, hulpeloosheid, dat die lewe vir hul te veel raak.
Bied emosionele ondersteuning
- Wees geduldig en luister: Soms wil hulle net praat oor hoe hulle voel, sonder om raad te kry. Stel belang en wees ingelig wanneer jou kind watter vak skryf.
- Moedig gereelde rusperiodes aan: Stel voor dat hulle kort rusperiodes neem gedurende hul studiesessies om hulleself nie te ooreis nie. Rusperiodes help ook dat hul gefokus bly.
Skep 'n rustige omgewing
- Minimaliseer afleidings: Skep 'n stil en georganiseerde ruimte waar hulle kan studeer. Indien daar jong kinders is, bestuur die geraasvlakke en plek waar hulle speel om jou matriekleerder te help.
- Balans tussen werk en ontspanning: Help hulle om 'n gesonde balans te vind tussen studie en ontspanning.
- Waak daarteen om jou kind met pligte te oorlaai wat tyd neem en jou verantwoordelikheid is.
Moedig gesonde gewoontes aan
- Voldoende slaap: Maak seker hulle kry genoeg slaap om te voorkom dat hul liggaamlik en geestelik uitgeput raak.
- Gereelde oefening: Oefening help om stresvlakke te verlaag en kan hul energievlakke verbeter.
- Gesonde eetgewoontes: 'n Voedingryke dieet sal hul breinfunksie ondersteun en hul energievlakke handhaaf. Sommige leerders het ‘n ekstra vitamienaanvulling nodig. Raadpleeg jou apteker hieroor.
Help met tydsbestuur
- Help jou kind om ‘n studierooster op te stel: Help hulle om hul werk in kleiner, bestuurbare dele te verdeel, sodat dit nie oorweldigend voel nie.
- Prioritiseer take: Wys hulle hoe om belangrike vakke of moeilike onderwerpe eerste aan te pak of kry vir hulle hulp hiermee indien jy nie self kan help nie.
Wees 'n rolmodel
- Bly kalm: Kinders hou dikwels hul ouers se stresvlakke dop. Probeer om positief en ondersteunend te bly en nie jou spanning aan jou kind oor te dra nie.
- Moedig selfvertroue aan: Wys hulle dat jy in hul vermoëns glo en bevestig dat harde werk beloon sal word.
Kry professionele hulp indien nodig
- ‘n Betrokke ouer is goud werd en jy is bevoorreg om jou kind in hierdie belangrike eksamen te ondersteun. Indien jy voel dat jou kind se angsvlakke te hoog is of hul gemoed te laag raak en probleme ervaar om dit alleen te hanteer, is daar altyd hulp beskikbaar.
- Oorweeg dit om met ‘n onderwyser, maatskaplike werker, ‘n persoon wat binne die mediese veld werk, ‘n geestelike leier, ‘n berader of sielkundige te praat. Die WKOD kan van die dienste aan leerders bied, maar wanneer dit ernstig sal'n verwysing gemaak word.
Deur 'n ondersteunende en rustige omgewing te skep, kan ouers 'n groot verskil maak aan hoe gr. 12-leerders die eksamen hanteer en hoe hulle gaan presteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’