OUDTSHOORN NUUS - Cedric Africa (53), beminde skrywer van Oudtshoorn, is vandeesweek skielik oorlede. Africa is bekend vir sy boeke, Skoolboelie, Lokasiestories, Kinders van die Hoorn, Noodkreet en Prodical Son.
Benewens die feit dat Skoolboelie in 2022 verfilm is, het hy ook gereeld vir Die Son-koerant, kortverhale geskryf.
Volgens sy vrou, Sheroma Africa, kom haar man se dood as 'n skok omdat hy glad nie 'n siek mens was nie.
"Ons het verlede Saterdagaand nog saam ingekruip en toe was hy nog fine. Hy het geen tekens getoon dat hy nie lekker voel nie en hy het ook nie gekla van enige pyn of iets nie. Die volgende oggend het ek opgestaan om kos te maak en saggies in die kombuis gewerk om hom nie wakker te maak nie. Na 'n tyd het ek na hom geroep, maar hy het nie gereageer nie, wat vreemd was, want hy is 'n baie ligte slaper.
"Ek is na ons kamer toe om hom fisies wakker te maak, maak hy het nie ontwaak nie en sy nek was slap. Ons het toe die buurman geroep en hy en my ma het gekyk of Cedric nog asemhaal, maar hulle twee het gesê hy was yskoud en gesê dat ons dadelik die ambulans moet bel.
"Vandaar af kan ek bitter min onthou, want ek het uitgepass van die skok."
Sy persoonlike verhaal inspireer veral as mens in ag neem dat Africa vir vyf jaar in die gevangenis was. Sy boeke, kortverhale en film het hy alles voltooi sedert hy in 2020 vrygelaat is.
Sy vertel dat haar man 'n ompad moes loop om sy skryfvernuf te ontdek.
"In die gevangenis het hy homself van dag een af geslyp om sy droom te verwesenlik en daaroor is ek baie trots. Ons as gesin is baie bly dat hy sy droom kon uitleef voordat hy die tydelike met die ewige verruil het. Dit voel nog onwerklik, maar ons gaan hom verskriklik mis veral omdat hy so 'n spontane persoonlikheid gehad het."
Wessel van Heerden, wat Africa se boek Skoolboelie verfilm het, het op Facebook in sy huldeblyk geskryf dat Africa baie stories nalaat wat nog baie mense se lewens ten goede sal verander. "Ons Salute jou Cedric!"
Mariska Kemp van Mia House of Publishing, die uitgewer van Skoolboelie, het op haar beurt gesê dat die bekendstelling van sy boek se film 'n oomblik van lag, trane en dankbaarheid was.
"Wat julle vasgevang het op film, het my diep aangeraak en veranderd laat uitstap uit daardie lokaal. Cedric, boeta soos ek jou genoem het, jy het my gewys dat mens nie in jou verlede vasgevang hoef te bly nie. Jy het my geleer dat wat jy verkeerd gedoen het, nie jou môre bepaal nie, maar wel jou keuses wat jy maak.
"Jy het my gewys wat dit is om Jesus te ontmoet in 'jou storm.' In 'n kort tydjie het jy diep in my en Werner se harte gekruip. Jy gaan vir seker gemis word. Dit was 'n absolute voorreg om jou te help om die woorde van jou hart vir ewig op papier vas te lê. Dit was 'n voorreg om jou te ken."
Africa word oorleef deur sy vrou, Sheroma, skoonma Francis Assure en kinders Warren, Amorehs, Salvatorè, Sadè en asook kleinkinders Amoran en Amiah. Hy laat ook sy broers Ralph, Lincoln en suster Patricia na.
Daar sal vanaand (Donderdag 13 Junie) 'n gedenkdiens om 19:00 by die Toekomsrus-saal gehou word.
Die begrafnis is Saterdag 09:00 in Petunialaan en 10:00 by die Toekomsrus-gemeenskapsaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’