PRINS ALBERT NUUS - Wat gebeur as 'n jong meerkat besluit hy wil verder en vinniger hardloop as enige ander Kalahari-meerkat ooit vantevore?
Sy storie word 'n avontuurverhaal vol van die spanning, kinkels, uitdagings en emosies wat net 'n buitengewone meerkat kan beleef.
In sy Engelse debuutverhaal, Sanu Meerkat, nooi die skrywer, Rudolph de Wet van Prins Albert, die leser uit om saam met Sanu die reëls van sy meerkatkolonie uit te daag, roofvoëls se oë te laat rek, die vinnigste meerkat te word en liefde en kameraadskap te vind.
Soos wat Jonathan Livingston Seagull al hoër en hoër en al vinniger en vinniger wou vlieg, wil Sanu net hardloop.
Volgens De Wet is hierdie verhaal nie net vir kinders nie, maar vir elke verbeeldingryke leser van alle ouderdomme. "Hierdie storie is 'n metafoor van dit wat ons as mensdom bymekaarbring eerder as om ons te verdeel. Ek dink mens is op die aarde om te leer, en jy het 'n gids nodig om jou te help as jy dalk verkeerde besluite neem."
De Wet sê hy wonder dikwels oor kwessies soos waar 'n mens voor jou aardse geboorte was en waarheen jy gaan ná jou dood, en hierdie vrae kom ook in Sanu Meerkat na vore.
Hy en sy vrou, Anika van Aswegen, besoek die Kalahari gereeld, en hul navorsing rondom hierdie besoeke het hom 'n uitstekende kennis van die Kalahari se wildlewe en plantegroei gegee. Anika is 'n kunstenaar en het die kunswerk vir die omslag sowel as die lyntekeninge en kaarte wat in die boek verskyn, geskep.
Die tema van die boek en die idee van 'n meerkat as hoofkarakter het ongeveer 10 jaar gelede by hom ontstaan, en hy het bykans sewe jaar aan die boek gewerk.
Hy sê die moeilikste deel van die skryfproses was om kleur en lewe aan die Kalahari en Sanu te gee en nie net bloot sy storie te vertel nie. "Ek het op 'n meerkat besluit omdat daar soveel parallelle tussen hulle en die mens is. Hulle woon in kolonies met 'n streng sosiale kultuur en lewenswyse; hulle is slim en taai."
Vir De Wet was die mees bevredigende deel van die proses om aan die einde te besef hy het daarin geslaag om Sanu lewendig te maak op so 'n wyse dat lesers met hom kan vereenselwig en inspirasie put.
Oor toekomstige boeke sê De Wet hy het nie onmiddellike planne nie, maar daar kan moontlik heelwat later nog 'n boek oor Sanu verskyn. Sy raad aan aspirantskrywers is eenvoudig: "Werk hard aan jou drome - jy is die enigste een wat hulle waar kan maak".
Vir meer inligting oor die boek of oor die skryfproses, kontak De Wet by 082 770 8020 of besoek www.sanumeerkat.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’