OUDTSHOORN NUUS - AnnMaree Barry, 'n polisievrou van Calitzdorp se ster skyn helder nadat haar kortfilm, Josefine, as een van die topdrie kortfilms by die kykNET Silwerskermfees aangewys is.
Uit 100 draaiboeke is agt gekies en Josefine, was een van hulle.
Barry, 'n gesoute skrywer wat reeds 'n hele paar boeke op die rakke het, kon haar vreugde nie verberg nie.
"Dit het nog nie heeltemal by my ingesink nie. Toe ek daar op die verhoog saam met groot name staan, het ek piepklein gevoel," vertel Barry.
Josefine is 'n riller wat handel oor 'n meisie wat selfmoord pleeg nadat sy geboelie is. Haar jonger boetie het dit gesien en het wraak gesweer. Hy spoor die boelies op en wis hulle een vir een uit.
Volgens Barry het dit haar twee weke geneem om die draaiboek te skryf.
"Ek was verbaas toe ek as plaaskind, oorspronklik van Zoar, een van die drie wenners was. My kop is vol stories en ek waardeer die erkenning wat ek kry."
Haar groot droom is om 'n televisiereeks te skryf.
AnnMaree Barry (middel) op die verhoog tydens die kykNet Silwerskermfees.
'Ons bring jou die Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'