OUDTSHOORN NUUS - Alle aktiwiteite rakende die skoonmaak van die Grobbelaarsrivier, is gestaak.
Hierdie kennisgewing is vroeg gister-oggend, Woensdag 4 Maart, deur die munisipaliteit uitgereik.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, moes die munisipaliteit aansoek doen om die rivier, wat deur die middedorp loop, skoon te maak en is toestemming slegs tot 28 Februarie verleen.
"Die staking van skoonmaakaktiwiteite sluit alle aktiwiteite binne die Grobbelaarsrivier en die Vloedskade-rivieropruimingsprojek in. Dit bring 'n onmiddellike stilstand vir alle grondverskuiwing en plantegroei-opruimingsbedrywighede in en langs die rivier."
Volgens haar het die munisipaliteit reeds by die departement van omgewingsake heraansoek gedoen vir 'n verlenging om voort te gaan.
Die publiek word aangemoedig om enige oortredings van hierdie kennisgewing by 044 203 3000 aan te meld.
Gerugte dat klagtes oor die skoonmaak-projek by die departement ingedien is, is deur Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, bevestig.
Volgens hom het die munisipaliteit sewe dae voor die permit verval het aansoek gedoen om die projek te verleng, maar het sy kantoor 'n brief ontvang wat verwys na 'n ondersoek na aanleiding van klagtes wat oor die projek ingedien is.
"Ons het geen antwoord gekry na ons aansoek gedoen het vir die verlenging van die projek nie. Ek het die munisipale bestuurder versoek om uit te vind waarom die permit nie verleng is nie, en het toe eers uitgevind dat daar 'n ondersoek is. Die klagtes is reeds op 29 Januarie ingedien, maar niemand het met ons daaroor gepraat nie."
Allers sê hy is bekommerd oor vloedskade indien hier weer groot reën kom.
"Die rivier is tans tot by Bloemstraat skoongemaak, maar van daar tot by Rademeyerstraat nie. Dit beteken indien daar 'n groot klomp water baie vinnig afkom gaan dit teen die walle begin opstoot waar dit nie skoongemaak is nie."
Dié skoonmaakprojek het vroeër vanjaar begin na volgehoue versoeke van inwoners en sakeondernemings vir die skoonmaak van die rivier om skade aan omliggende eiendomme tydens swaar reën te voorkom.
Tydens 'n vergadering met belanghebbendes in November verlede jaar, het Allers gesê dat die projek noodsaaklik is om vloedskade te voorkom. Die vloede van verlede jaar het geweldige skade aan privaat eiendom, sowel as munisipale infrastruktuur aangerig.
"Dit gaan nie net oor die beskerming van privaat eiendom nie, maar ook oor die behoud van munisipale infrastruktuur wat herhaaldelik deur vloede beskadig word," het hy gesê.
Allers het ook genoem dat die oorgroeide rivier 'n veiligheidsrisiko vir inwoners inhou omdat dit 'n tuiste vir haweloses en ongewenste elemente geraak het. Hy het ook gesê dat die munisipaliteit die skoon gemaakte area wil mooimaak sodat die gemeenskap dit kan geniet en veilig langs die rivier kan stap.
Oudtshoorn Courant het navrae aan die munisipaliteit en die departement van omgewingsake gerig rakende die ondersoek, sowel as die toekoms van die projek. Wouter Kriel, Anton Bredell se woordvoerder, het gesê die departement van plaaslike regering is bewus van die situasie en het reeds kontak met die munisipaliteit en die departement waterwese gemaak. Volgens hom word daar aan 'n oplossing gewerk.
"Omgewingsake het die opdrag gegee omdat werk in rivier deur munisipaliteit nie binne riglyne gebly het nie."
Die munisipaliteit het nie teen druktyd reageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’