Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Bongolethu Child Care Centre in Oudtshoorn, wat op die aand van 26 Julie deur 'n brand in puin gelê is, se leerders het nou weer 'n tydelike heenkome en word bygestaan deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), maar volgens die skoolhoof het die kinders nog baie hulp van die gemeenskap nodig.
Die skooltjie, wat van sy tuiste in 13de Laan, Bongolethu nou na die Nevada-saal verskuif is, bedien byna 140 kinders van onder meer die Bongolethu-, Rosebank- en Rosevalley-gemeenskappe, en bestaan al vir byna 30 jaar.
Volgens die skoolhoof, Judith Tyatya, is dit 'n moeilike tyd vir die kinders en personeel. Hulle kry slegs 'n subsidie van die WKOD en is tot dusver afhanklik van skenkings uit die gemeenskap om te kan voortgaan met die onderrig van die leerders.
Tyatya het gesê dat die skool al tafels en stoele ontvang het, en dat daar verdere stoele aangekoop is waar dit moontlik was. "Meeste van ons leermateriaal en kunswerke is op my foon en ek kon dit ook laat druk by 'n plaaslike drukker. Ons ontvang nog skenkings van boeke, legkaarte, skryfbehoeftes en sulke tipe items vir die kinders om mee te speel en te gebruik," het sy dankbaar gesê.
Hulle het volgens Tyatya die voorval by die WKOD aangemeld. Sy het bygevoeg dat die oorsaak van die brand nog nie bekend is nie.
Millicent Merton, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig dat die voorval aan die WKOD se Direktoraat: Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) aangemeld is wat die saak ondersoek en ondersteuningsdienste ingeroep het.
Die skool, is volgens Merton, op die geregistreerde databasis vir die gedeeltelike sorgfasiliteite en ontvang 'n subsidie.
"Die departement gaan voort om die fasiliteit te ondersteun deur die betaling van die subsidie. Die departement skakel ook met maatskaplikediensorganisasies in die VKO-ruimte om ondersteuning met leermateriaal en leerhulpbronne te verskaf. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons VKO-vennote bied," het sy bygevoeg.
Indien so 'n voorval met 'n skool sou gebeur, het Merton gesê, moet die volgende stappe geneem word deur die "fasiliteitsbestuur of eienaar": rapporteer die saak by die owerhede (SAPD of brandweer); die ouers, versorgers/voogde van die kinders moet in kennis gestel word en die saak moet by die onderwyshoof aangemeld word.
Vorige artikels:
Die rommel van die skool en sinkplate wat oorgebly het na die brand. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’