Update
OUDTSHOORN NUUS -Twee brande, wat enkele dae uitmekaar ontstaan het, het massiewe skade aan 'n besigheid en 'n skool aangerig.
Die eerste brand was op 26 Julie toe 'n kleuterskool in Bongolethu in puin gelaat is.
Sondagaand het Wes-Handelshuis enorme skade gely na 'n brand kort na beurtkrag buite die winkel ontstaan het.
Bongolethu Child Care Centre
Die Bongolethu Child Care Centre in 13de Laan, Bongolethu het Woensdagaand, 26 Julie, op 'n onbekende manier aan die brand geslaan en lê tans in puin - daar is niks van die skool oor nie behalwe 'n hoop sinkplate en 'n klimraam.
Dié kleuterskool, wat byna 140 kinders van onder meer die Bongolethu-, Rosebank- en Rosevalley-gemeenskappe bedien, bestaan al vir byna 30 jaar.
'n Duidelik hartseer en getraumatiseerde skoolhoof, Judith Tyatya, het gesê dat dit 'n verskriklike slag vir die skool, personeel en kinders is en dat hulle geen idee het hoe die brand ontstaan het nie. Sy het gesê dat die skool nou op soek is na 'n tydelike heenkome sodat kinders steeds kan skoolgaan.
Tyatya het vertel dat die gemeenskap rondom die skool tot dusver so veel moontlik hulp verleen het en selfs ingespring het om die perseel te probeer opruim, maar dat die breër Oudtshoorn-gemeenskap haar kan kontak om op enige manier te help. Skakel haar by 072 180 2924.
Oudtshoorn Courant het met Marilyn Blaauw, 'n ouer van een van die skooltjie se leerlinge gesels oor hoe ouers tans voel oor die insident, en hoe geheg die kleintjies aan die skool was.
Volgens Blaauw was haar eie kind mal oor sy skool. "As ons daar verbygestap het in die middae of oor naweke het hy altyd gesê 'kyk mamma, daar is my kleuterskool'. Hy was baie trots op sy skool en baie lief om skool toe te gaan en baie lief vir sy onderwysers. Die liefde wat hy vir sy skool en onderwysers het, straal uit by hom," het Blaauw vertel.
Die ouers van die skool, volgens Blaauw, voel baie sleg en is ongelooflik hartseer oor wat by die skool gebeur het. "Almal voel baie seergemaak, die onderwysers ook. Ons wag nog vir antwoorde en dink veral aan ons onderwysers en die hoof. Ouers en die breër gemeenskap het onmiddellik kom help toe hulle hoor die skool het afgebrand."
Blaauw het gesê dat die grootste kopseer vir ouers op hierdie stadium is waarheen hul kinders gaan, juis nadat hulle onlangs van skoolvakansie af teruggekom het en net-net besig was om weer gewoond te raak daaraan om by die skool te wees. "Ons as ouers is bekommerd, maar die kinders ook. Hulle vra heeltyd daaroor en mens kan sien selfs die kindertjies is hartseer oor hulle skool wat afgebrand het."
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Wes-Handelshuis
Volgens Jaco Vorster, eienaar van Wes-Handelshuis, was die brand 'n reuseterugslag.
"Ons het net mooi op ons voete begin staan na die Covid-pandemie. Ons het soveel veranderings aangebring en die markdae wat ons Vrydae gehou het, het ongelooflik goed gedoen."
Volgens hom het die buurman reg agter Wes-Handelshuis net na 22:00 die brandweer van die brand in kennis gestel.
"Ons het geen idee hoe die brand ontstaan het nie. Dit is vir almal van ons duister. 'n Brandinspekteur van Johannesburg gaan die perseel kom besoek om te kyk wat presies die brand veroorsaak het."
Volgens hom kon hulle ook nog nie 'n volledige skadebepaling doen nie.
"Die versekering werk in drie dele. Sover is die toerusting se skade alleen ver oor 'n miljoenrand. Daar is gesondheidsinspekteurs wat moet bepaal watter van ons produkte nog bruikbaar is en watter nie en dan is daar ook 'n deel wat gaan oor besigheidsonderbreking. Die winkel gaan vir minstens drie tot vier maande gesluit wees. Daar is mure wat oorgebou sal moet word. Dan praat ek nie eers oor die personeel wat by ons werk nie."
Vorster sê dit voel soms of hy heeltemal wil moed opgee en dan kom inwoners en maak net als beter.
"Die ondersteuning wat ons tot dusver gekry het is ongelooflik. Wes is al 71 jaar oud en is steeds op sy oorspronklike perseel. Dit is die mense se winkel. Wes is deel van Oudtshoorn. As dit nie was vir die ondersteuning nie, weet ek nie hoe ons dit sou gemaak het nie."
Vorige artikel: Kleuterskool in Bongolethu lê in puin
Op die oggend van 28 Julie het die perseel waar die Bongolethu Child Care Centre gestaan het so gelyk. Foto: Stefan Goosen
Die skade aan die agterkant van WesHandelshuis. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’