OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot stap in die stryd teen menstruasie-armoede is verlede week geneem toe die nie-winsgewende organisasie #againstperiodpoverty 'n muntoutomaat (vending machine) wat gratis sanitêre doekies beskikbaarstel, aan Ladismith Sekondêr oorhandig het.
Die muntoutomaat, wat met munte werk, sal in die skool se siekeboeg geïnstalleer word. Dogters wat sanitêre doekies benodig, sal die munte by die administratiewe kantoor kan afhaal.
Die skool is die eerste in Kannaland om só 'n masjien te ontvang, en volgens die organisasie sal ander skole in die streek binnekort ook daarby baat.
Die dryfveer agter die projek, Lindsay Adams, het met passie verduidelik hoekom hierdie werk vir haar so belangrik is.
"Baie dogters verloor waardevolle onder-rigtyd omdat hulle nie sanitêre doekies kan bekostig nie. Menstruasie is 'n teken van krag en lewe, elke dogter behoort toegang tot sanitêre doekies te hê," het sy gesê.
Die skoolhoof, Shaanta Isaacs-Lee, het die geskenk as 'n seën beskryf.
"Niks gebeur toevallig nie. Hierdie is deel van God se plan, en ons is ongelooflik dankbaar. Lindsay is 'n dinamiese persoon wat vinnig die leerders se vertroue gewen het."
Ook Ashley Potts, raadslid van die Kaapstad, was teenwoordig en het vertel hoe hy self gekonfronteer is met 'n leerder wat skool gemis het omdat sy nie oor sanitêre doekies beskik het nie.
"Dit het my diep geraak. Daarom het ons hierdie probleem dringend aangepak. Ek is trots dat Kaapstad hierdie projek ten volle ondersteun," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’