LADISMITH NUUS - Hoërskool Ladismith het die afgelope naweek, tot groot vermaak van die hele gemeenskap, 'n suksesvolle karnaval aangebied.
Donovan Fortuin, die skoolhoof, het hierdie karnaval as 'n spanpoging tussen opvoeders, ouers en veral die reëlingskomitee bestempel.
Fortuin het die reëlingskomitee geloof vir hul toewyding en die feit dat hulle toegesien het dat plaaslike inwoners se aansoeke om stalletjies voorrang geniet het.
Volgens hom was die karnaval 'n geldinsamelingsgeleentheid, maar wou die skool ook die gemeenskap nader aan mekaar bring.
Die skool se sportterrein het gewemel van inwoners wat die geleentheid ondersteun het en die atmosfeer was feestelik en ideaal.
Bennet de Wee, lid van die skoolbeheerliggaam, het die karnaval as 'n reusesukses bestempel en het die feit dat dit sonder enige negatiewe voorvalle verloop het aan die ingesteldheid van die gemeenskap toegedig.
Fortuin het ook die plaaslike besighede geloof vir hul ondersteuning aan die skool tydens die naweek se feestelikhede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’