OUDTSHOORN NUUS - Bejaardes van die ACVV Helen Bellinganhof-versorgingsoord is Vrydag 12 Desember bederf deur 'n besoek van Kersvader.
Geskenke is uitgedeel wat deur Anneline Smith, Janine Pretorius en Yolandi Claassens as deel van die Oudtshoorn-skoenboksprojek ingesamel is. Dit is die 18de jaar wat hierdie projek in Oudtshoorn plaasvind.
Hierdie jaar het die projek alle verwagtinge oorskry met meer as 200 geskenke wat ingesamel is. Die projek is gemik op behoeftige en eensame inwoners van die ACVV-tehuise in Oudtshoorn.
Oudtshoorn Courant het met Smith gesels oor die ontstaan van die projek.
"Ek het die projek 18 jaar gelede begin, oorspronklik net met Môreson-kinderhuis in gedagte, en het met Janine Pretorius in kontak gekom aangesien sy op daardie stadium daar gewerk het. Die projek het vinnig uitgebrei.
Ons het vir Yolandi Claassen betrek en tot vandag toe doen ons drie elke jaar die projek saam. Ockerine Snyman het in Oudtshoorn my medewerker geraak, nadat sy ook baie jare deel was van die projek."
Volgens Smith het die Oudtshoorn-gemeenskap saamgestaan om Bellinganhof -versorgingsoord te help.
"Tot op die einde het mense nog aangebied om te help indien ons iets kort. Dit was regtig 'n voorreg om die projek saam met suster Colleen Fourie te kon doen, veral gegewe die feit dat dit haar laaste jaar was.
Ons doen na al die jare steeds omliggende kinderhuise, en het uitgebrei tot verskeie ander tehuise vir bejaardes en skole wat ons roteer."
Wat die projek uniek maak is dat dit nie voorskriftelik is nie, die randwaarde van die geskenk moet net ooreenstem.
"Ons staan dus onafhanklik van die Santa Shoebox-projek, en het die getroue ondersteuning deur al die jare."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’