Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Oud en jonk van heinde en vêr het verlede week, die eerste keer sedert Covid-19, vanaf 29 September tot 1 Oktober die 51ste modelvliegtuigbyeenkoms by die Oudtshoorn-lughawe bygewoon.
"Sowat 52 geregistreerde vlieëniers met hul gesinne en helpers het oor die vier dae in Oudtshoorn gewoon wat 'n welkome finansiële inspuiting vir die dorp was," het Fanie Fourie, koördineer van die byeenkoms en ook voorsitter van die Cango-vliegtuigklub, gesê.
Fourie sê dat modelvliegtuie soos helikopters, turbinestralers, valskerms en skaalmodelle van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog in verskillende kategorieë deelgeneem het en beoordeel is op grond van toertjies, voorkoms en hoe hulle vlieg.
FOTOGALERY: Die modelvliegtuigbyeenkoms 2022
In al die verskillende modelvliegtuie moet alles uitgevoer word presies soos die ware Jakob dit in die regte lewe sou gedoen het.
Fourie se raad aan 'n nuweling is dat dit altyd die beste is om deur iemand anders geleer te word hoe om te vlieg.
"Belangstellendes wat graag die stokperdjie wil beoefen kan Cango-vliegtuigklub se Facebook-blad besoek. Ons het ook ons eie vliegveld buite die dorp langs die Oudtshoorn-polisiehondeenheid.
Wat kostes betref het Fourie gesê dat dit afhang van hoe duur jy jou stokperdjie wil maak. By Oudtshoorn se modelvliegtuigbyeenkoms sien jy die beste wat daar in die land is.
"Beginners kan begin met 'n eenvoudige model en radio van so R5 000 - van die duurste vliegtuie is oor die R200 000; so dit hang maar af hoe diep jou sak is," het hy geskerts.
Pragtige modelvliegtuie van enige kleur en grootte was te sien by die modelvliegtuigbyeenkoms.
Oudtshoorn Courant het met Hannes Potgieter gesels wat die trotse eienaar van die grootste modelvliegtuig by die byeenkoms was. Volgens Potgieter is sy petrolaangedrewe-modelvliegtuig, 'n 50% Spacewalker wat hy in 2003 gebou het. Dit is volgens hom die grootste van sy soort in Suid-Afrika.
"Wat hom mooi maak is al die detail wat ek op hom gesit het net soos die regte een."
Ek het byvoorbeeld ripstiching opgesit en ook die kajuit netjies gemaak met sy toepaslike kontroles ens. As ek moet skat sal ek sê dat my Spacewalker vandag
R50 000 werd is. Ek en Rissiepit, my jare lange vlieënier, hoop om volgende jaar weer by die Oudtshoorn-modelvliegtuig-byeenkoms te wees," het hy gesê.
'n Werktuigkundige besig om verstellings aan een van die modelvliegtuie te maak. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'