OUDTSHOORN NUUS - Heelwat onbeantwoorde vrae rakende die plaaslike munisipale skut het tans diereliefhebbers in Oudtshoorn ontstoke.
'n Munisipale kennisgewing, wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit op 11 Julie uitgereik is, noem dat daar op die oomblik 14 honde en babahonde, asook 20 katte in die skut is.
Volgens die advertensie is aanneming van diere by die skut gratis. Dit was juis dié kwessie wat die bloed laat kook het, en vrae oor huisbesoeke, sterilisasie en onwettige teling veroorsaak het.
Diere wat by die skut is, is diere wat sonder toesig op enige openbare pad of plek aangetref word en op beslag gelê kan word. Die taak hoef nie deur die skutmeester en hul personeel gedoen te word nie, maar deur enige lid van die Suid-Afrikaanse polisiediens, asook enige lid van die Suid-Afrikaanse Weermag, die provinsiale padverkeersinspektoraat of 'n gemagtigde munisipale amptenaar, aldus die munisipaliteit.
Inwoners mor reeds 'n geruime tyd op sosiale media dat 'n nuwe skut op 'n meer aanvaarbare plek opgerig moet word nadat daar etlike jare gelede bevind is dat die rioolsuiweringswerke se perseel nie geskik is vir 'n skut nie.
Tot op hede het die stand van sake nie verander nie, en is die skut steeds langs die rioolsuiweringswerke. In Junie verlede jaar het die munisipaliteit bevestig dat hulle wel eiendom op 'n 20-jaar-huurkontrak bekom het. Tenders vir veeartseny dienste en kos was volgens die munisipaliteit ook reeds gefinaliseer, maar die skut het steeds nie geskuif nie.
Só sê die munisipaliteit
Oudtshoorn Courant het die week weer 'n navraag gestuur rakende die situasie by die skut en die gratis aannemings.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het as volg gereageer: Die munisipaliteit het 'n nuwe inisiatief begin wat daarop gemik is om liefdevolle huise vir die diere by die plaaslike diereskut te vind.
"Honde en katte kan voortaan onmiddelik gratis aangeneem word. Hierdie inisiatief is deel van ons deurlopende dierewelsyn en verbintenis tot gemeenskapsdiens.
Hoewel die aanneming self gratis is, moet die volgende fooie gedek word deur die individu wat die troeteldier aanneem: sterilisasie, inenting, ontwurming, asook 'n gesondheidsondersoek."
Mle noem dat dit belangrik is om daarop te let dat as deel van die aannemingsproses, 'n huis- en erfinspeksie deur een van die munisipale amptenary van die diereskut uitgevoer sal word.
"Hierdie inspeksie is noodsaaklik om te verseker dat die omgewing waar die dier gaan woon veilig en geskik is. Die aannemingsaansoek moet hierdie inspeksie slaag om goedgekeur te word. Indien die inspeksie onsuksesvol is, sal die aansoeker nie kwalifiseer om 'n dier aan te neem nie.
"Hierdie maatreël is in plek om die welstand en veiligheid van die troeteldiere wat aangeneem word, te verseker. Daarbenewens sal die siftingsproses voortgaan, asook sterilisasie soos vereis deur die bywette vir enige diere wat deur die skut ingeneem word."
Die besluit om gratis aannemings aan te bied is deur die munisipaliteit geneem om meer inwoners aan te moedig om diere uit die skut aan te neem, wat verseker dat die diere liefdevolle huise vind.
"Deur noodsaaklike kostes soos sterilisasie en inentings te dek, verseker ons dat troeteldiere gesond en versorg is, wat bydra tot verantwoordelike troeteldiereienaarskap. Hierdie inisiatief strook met die munisipali-teit se verbintenis tot die welsyn van alle diere in ons sorg."
Skut besoektye
Potensiële aannemers en vrywilligers is welkom om die diereskut gedurende die volgende ure te besoek:
- Maandae tot Donderdae: 11:00 - 13:00 en 14:00 - 15:00. Vrydae: 11:00 - 12:00
- Saterdae en Sondae gesluit.
Munisipale skut vs diereskuiling
Mle beklemtoon verder dat inwoners die verskil tussen 'n munisipale skut en diereskuiling moet verstaan.
"'n Skut is tipies 'n munisipale fasiliteit waar verdwaalde, verlore of verlate diere tydelik aangehou word.
Hierdie fasiliteite word dikwels deur plaaslike munisipaliteite bedryf en is gefokus op dierebeheer en openbare veiligheid. Diere by 'n skut word vir 'n sekere tydperk aangehou, waarna hulle vir aanneming beskikbaar gestel kan word, na ander skuilings oorgeplaas kan word, of, in ongelukkige gevalle, uitgesit kan word indien geen huis gevind word nie. 'n Diereskuiling word gewoonlik bestuur deur private, nie-winsgewende organisasies soos Oudtshoorn-diereherberg en ODIN wat hulself toewy aan die versorging en aanneming van diere.
Skuilings bied dikwels meer uitgebreide dienste, insluitend rehabilitasie, veeartsenykundige sorg, asook behuising vir 'n langer termyn.
Toekomstige bedrywighede by die skut
Volgens Mle is die 20-jaar-huuroor-eenkoms steeds in plek en het die munisipaliteit reeds die grond bekom direk oorkant die huidige skut. Kontrakte en administratiewe reëlings is ook gefinaliseer.
"Die primêre uitdaging wat tans in die gesig gestaar word, is om finansiering vir die projek te verkry. Die beplanning behels die gebruik van die huidige fasiliteit vir die inname en sifting van alle diere, terwyl honde en katte na die nuwe aannemingsafdeling hervestig sal word waar publieke toegang toegelaat sal word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’