Riaan Strydom, wat volstruiskuikens van dagoud tot op vyf, ses maande grootmaak op 'n plaas op Rooiheuwels, het Dinsdagoggend op die slagting afgekom.
Volgens Strydom was hy Maandagaand omstreeks 21:00 op die plaas en alles was in orde. Hy het die skokkende toestand van die volstruise Dinsdagoggend 07:00 ontdek en die polisie ontbied.
"Toe ek vanoggend op die plaas kom het ek opgemerk die volstruise is onrustig. Ek het soos elke oggend die slote en heinings inspekteer en op die dooie volstruise afgekom. Hulle is teen die kop met iets doodgeslaan. Toe sien ek die ander wat kaal gepluk is tussen die trop loop," het Strydom Dinsdag-oggend op die plaas gesê.
Die skade beloop sowat R1 600 per volstruis, maar die emosionele skok is selfs groter. "Ek het hulle die afgelope vyf maande grootgemaak vandat hulle 'n dag oud was. Ek het twee maande lank by hulle geslaap om te sorg dat hulle oukei is. Mens hoor dat sulke goed gebeur, maar dit slaan jou hard as dit met jou gebeur."
Volgens Strydom word die volstruise op vyf tot ses maande, wanneer hulle sowat 55 kg weeg, bemark aan iemand wat hulle verder afrond totdat hulle sowat 95 kg weeg en gereed is vir die slagpale. Die eerste 422 van die 1 050 kuikens wat Strydom grootgemaak het, is pas afgelewer. Die volstruise wat gedood of vermink is, sou binne 'n week of twee ook gereed gewees het vir bemarking.
"Geen slagpale sal die beskadigde voëls vat nie, want die velle is erg beskadig, en dit help nie om hulle te hou nie – hulle gaan nooit weer regkom nie. Al genade is om van hulle ontslae te raak soos deur die VPN04 se biosekerheidsprotokol voorgeskryf word." Dit beteken die voëls moet in 'n gat gegooi en verbrand word voordat die gat weer toegegooi word.
"Vir die eerste keer sedert die uitbreek van H5N2 in April 2011 is die volstruisbedryf besig om te herstel en kan 'n mens die sommetjie laat begin klop. En nou gebeur dit."
Die polisie het spore van die verdagtes van die kamp af tot by die Olifantsrivier gevolg. Oorkant die rivier is die Rose Valley-plakkerskamp.
In April is 63 volstruise op Jack Klass se plaas sowat 3 km van Strydom af gepluk, maar geen voëls is in die proses gedood of beseer nie. Ten spyte van 'n aanbod van R1 000 vir enige inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes, is daar nog geen vordering met die ondersoek gemaak nie.
Die waarde van 'n volstruis van 55 kg is tans R1 600 en 'n slaggereed volwasse voël van 95 kg sowat R3 500, sê dr. Adriaan Olivier, veearts by Klein Karoo International (KKI). Johan Stumpf, hoofdirekteur van KKI, het tydens 'n onlangse inligtingsvergadering vir volstruisboere gesê die gemiddelde verdienste per vel is sowat R2 087, terwyl 'n prima-graad vel tot R5 400 werd kan wees.

Riaan Strydom by een van die dooie volstuise. Hierdie een is 'n hoek van die kamp vasgekeer, doodgeslaan en toe kaal gepluk.
ARTIKEL EN FOTO'S: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'