DYSSELSDORP-NUUS - "Preek Jesus altyd eerste, en in alle omstandighede."
Dit was Sondag die opdrag van die ds. Louis Jansen, moderator van die Volkskerk van Afrika, aan die pas geordende ds. Angelo Cavin Galant, boorling van Dysselsdorp, in 'n stampvol kerk.
Galant (26) is die seun van Catherine en wyle Klaas Galant. Hy het sy hoër- en laerskoolloopbaan in Dysselsdorp voltooi en in 2017 sy teologiese opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat begin en behaal sy graad in "Theology in Divinity" in 2022. In 2023 ontvang hy proponentstatus binne die Volkskerk van Afrika.
Jansen het Galant gemaan om nie die preekstoel te gebruik om te preek wat die mense wil hoor nie. "Ons leef in bose tye en mense wil opgehemel word en hoor hoe goed hulle vir die kerk is. Waak daarteen."
Die handoplegging deur predikante wat die diens bygewoon het was ‘n plegtige oomblik. Foto: Garnett Wicomb
Die spesiale geleentheid is deur ondermeer vriende, familie, lede van die Volkskerk van Afrika Leraarsraad en verskeie predikante en Pinksterleiers bygewoon.
Galant het gesê hy wil sy pligte as predikant van die Volkskerk met nederigheid, integriteit, liefde en met sy oor naby God se mond uitvoer.
Hy het reeds 'n beroep by die Volkskerk van Afrika Elsiesrivier aanvaar en sal op 9 Junie deur ds. Leon Smith, bevestig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’