OUDTSHOORN NUUS - 'n Sesjarige seun van Oudtshoorn is ernstig beseer en ondergaan tans intensiewe behandeling in die George-hospitaal nadat hy verlede week na bewering deur 'n taxi in Bongolethu raakgery is.
Die kind, Renaldo Visman, se familie sê hulle is onseker oor wat presies tydens die voorval gebeur het. Volgens sy pa, Frans Nuwenuys, het die voorval Donderdag 28 Mei plaasgevind toe hy en sy vrou, Rochelle, op pad huis toe was.
Hy vertel dat hulle by hul afklimplek in Black Joint 'n groep mense om 'n taxi sien saamdrom het.
"Ek en my vrou het nader gestap om te sien wat gebeur het. Toe ek daar kom, het ek my kind se agterkop onder die taxi herken omdat hy 'n kenmerkende kaal kol op sy kop het. Niemand kon vir ons sê wat regtig gebeur het nie. Al wat ons gehoor het, was dat hy twee keer deur die voertuig gestamp is. Ons moes help om die taxi op te lig sodat hy uitgehaal kon word," het Nuwenuys gesê.
Renaldo het verskeie beserings aan sy gesig, arms en ander dele van sy liggaam opgedoen en is per ambulans na die George-hospitaal geneem. Hy is aanvanklik op Vrydag 29 Mei ontslaan, maar moes later weer vir verdere behandeling opgeneem word.
Volgens sy pa lê daar nog 'n lang herstelpad voor.
"Hy moet veloorplantingsoperasies ondergaan en gaan waarskynlik nog vir 'n geruime tyd in die hospitaal wees. Ons is net ongelooflik dankbaar dat hy nog leef. Hy is ons laatlammetjie. Sy ouer broers en susters het reeds die huis verlaat, daarom is hy vir ons baie kosbaar," het hy gesê.
Nuwenuys sê daar was verskeie ooggetuies, maar min mense is tot dusver bereid om inligting oor die voorval te deel.
"Ons laat die saak nou in die hande van die polisie en vertrou dat die nodige ondersoek gedoen sal word," het hy gesê.
Ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie 'n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.
"Die beweerde voorval het op 28 Mei omstreeks 17:30 in Zanoxolostraat, Bongolethu, plaasgevind. Die polisie is in kennis gestel dat 'n sesjarige seun met beserings na die hospitaal geneem is. Met hul aankoms by die hospitaal het polisielede die kind met ernstige beserings aangetref. Die presiese omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek," het Spies gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’